‘Geen gunsies vir Stefan’
2011-10-20 09:57
Bloemfontein – Hoewel hulle lank spanmaats was, sal die Vrystaat se Andries Strauss beslis nie Saterdag in Durban enigsins sy goeie vriend Stefan Terblanche van die Haaie in waarskynlik sy swanesang goedgesind wees nie.
Volgens Strauss wil hy die Curriebeker-rugbyreeks saam met die Cheetahs wen en is dit al wat in dié halfeindstryd tel.
Dié Vrystaatse binnesenter het nog verlede jaar die Curriebeker saam met die Haaie, waar hy lank saam met Terblanche gespeel het, verower.
Strauss meen die 36-jarige Terblanche kan moontlik sy stewels na 2011 se reeks ophang en daarom sal dit vir die Haaie belangrik wees om hom met nog ’n Goue Beker te groet.
Maar hy sal ongelukkig geen gunsies aan Terblanche bewys nie.
“Die Haaie het ’n bietjie momentum en dit gaan baie hard wees. Die feit dat ek teen my ou spanmaats jol, gaan nie werklik ’n verskil maak nie.
“Daar sal natuurlik bietjie emosie betrokke wees in Durban, omdat ek dink Stefan Terblanche aan die einde van die jaar ophou en die Haaie hom graag nog ’n wedstryd (’n eindstryd) wil gee.
“Maar ons wil net so graag die Curriebeker wen,” het Strauss gesê.
Die tuisspan kan Terblanche op heelagter of buitesenter inspan. Terblanche en Marius Joubert was verlede week teen die Leeus die Haaie se senters, met Patrick Lambie die heelagter.
Lambie het al dikwels die nr.12-trui gedra en dis waar Strauss hom sal kies.
Of dit nou is omdat hy hom graag wil plattrek, weet ’n mens nie, maar Strauss meen die talentvolle Lambie moet nader aan die spel wees.
“Ek dink jy wil Patrick Lambie so gou moontlik naby die bal en in die spel kry. As ek ’n senterkombinasie moes kies, sou ek Pat as binnesenter en Stefan as buitesenter kies.
“Dalk kan hulle Louis Ludik as heelagter inspan. Dis moeilik om te sê, maar ek verwag hulle sal met Marius en Stefan in die middelveld volhard.”
Hoewel hulle nog vanjaar min saam gespeel het, sê Strauss hy en Robert Ebersohn speel al beter saam.
“Toe ek by die Cheetahs ingeval het, het ek nogal daarna uitgesien om saam met Robert te speel. Ons het vanjaar nog min saam kans gekry, maar stadig maar seker is ons besig om mekaar beter te verstaan.
“As ons teen Stefan en Marius speel, speel ons teen ouens met baie ervaring. Dit gaan vir ons ’n uitdaging wees, maar die jonger manne kan beslis bo uitkom,” sê Strauss.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24