Franse sokkerstryd in Kaap traak Hane min
2010-06-11 09:24
Kaapstad - Die Franse rugbyspan is nie hier om hul sokkerspelende landgenote se hande vas te hou wanneer dié Vrydagaand in die Kaapstad-stadion hul Wêreldbeker-veldtog teen Uruguay begin nie.
Om die waarheid te sê, is die Hane ietwat geïrriteerd met die sokkerstemming wat te midde van hul voorbereiding vir Saterdag se toets teen die Springbokke heers.
’n Franse bestuurslid het Dinsdag gesê hy sal die sokker gaan kyk “as ek nie ’n ander keuse het nie”.
Op ’n versoek van die uitsaaier SuperSport dat die Franse breier, Marc Lievremont, ’n boodskap van ondersteuning aan hul landgenote stuur, is geantwoord: “Ons is hier om rugby te speel, en dit is waarop ons fokus.”
Dié houding sal ’n paar oë laat rek, maar die Springbokke het dalk nou meer as die besoekers se fisieke oorheersing in onlangse kragmetings tussen dié lande om hulself oor te bekommer.
“Dit is altyd moeilik om teen Suid-Afrikaners te speel. Hul voorspelers is groot en kragtig, en ek is seker hulle sal hierdie keer reg wees vir ons,” het die Franse kaptein, Thierry Dusautoir, Donderdag oor die fisieke aanslag gesê.
Met daardie wete is dit die Franse se sielkundige voorbereiding wat môre die deurslag kan gee.
Hul haker, Dimitri Szarzewski, het aan Sport24 gesê hulle gee die Bokke nie gereeld streepsuiker omdat hulle beter is nie – “ons voorbereiding is dan meer gefokus”.
In teenstelling met die tuisspan se beklemtoning van sy sterk Super14-onderbou, is die Sesnasies-kampioen, met sy nege Heinekenbeker-finaliste, al te versigtig om dít as ’n sterkpunt op te hemel. Die gunsteling-titel was immers al menige sportman se doodskoot.
En aan die sokkerkoors wat heers, had die Hane min erg.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24