Frans dalk in 2012 terug by die huis
2011-12-07 07:00
Bloemfontein – Frans Steyn sal straks weer eersdaags op plaaslike bodem in aksie wees.
Die groot senter se agent, Gerrie Swart, het Dinsdag aan Sport24 bevestig dat Steyn dit oorweeg om weer in Suid-Afrika te kom rugby speel nadat sy kontrak met sy Franse klubspan, Racing Metro, aan die einde van Junie eindig.
“Ons kyk tans na opsies en daar is moontlike skuiwe terug Suid-Afrika toe,” het Swart, wat tans in Frankryk is om Steyn se toekomsplanne met hom te bespreek, gesê.
Swart het nie uitgewei oor watter unies in Steyn se dienste belangstel nie, maar daar is heelwat SA spanne wat die laaste tyd ’n paar van hul kwaliteit-agterspelers verloor het.
Die Sharks sal 2012 byvoorbeeld binnegaan sonder die senters Stefan Terblanche (wat uitgetree het en sy loopbaan by Ulster gaan afsluit) en Adi Jacobs (wie se kontrak verstryk het).
Die Westelike Provinsie se reserwes is erg uitgedun deur die eksodus van spelers soos Jaque Fourie (Japan), Johann Sadie (Bulls) en Tim Whitehead (Sharks), en in Pretoria verskyn die name van Jaco Pretorius, Stefan Watermeyer en Stephan Dippenaar nie meer op die Bulls se lys van gekontrakteerdes nie.
Nóg ’n opsie is die Lions, wat al voorheen belangstelling in Steyn getoon het, en ’n leemte het sedert Burton Francis Kaap toe is.
Steyn, wat een van Suid-Afrika se gróót uitblinkers in die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland was, kon sedert sy besering nog nie weer vir Racing Metro speel nie, maar Swart is hoopvol dat hy binnekort weer op Franse rugbyvelde te sien sal wees.
Volgens Swart herstel die beseerde skouer flink, en sal Steyn moontlik so vroeg as middel Januarie weer kan speel.
“Hulle (Racing Metro) is besig om hom te rehabiliteer. Hy het reeds weer die volle gebruik van sy skouer, en ondervind geen pyn nie. So dinge verloop in dié stadium beter as wat ons aanvanklik verwag het.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg