Frans Steyn gou terug in SA
2011-05-26 11:31
Kaapstad - Die veelsydige rugbyspeler Frans Steyn keer binnekort terug na SA om 'n blaaskans voor die Springbokke se komende toetsseisoen te neem, het die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) se bestuurder van nasionale spanne, Andy Marinos, Donderdag gesê.
Marinos het na Frankryk gereis waar Steyn die naweek vir Racing Metro in die halfeindronde van die plaaslike Top14-liga speel.
"Ons het oorgegaan om met Pierre Berbizier en Simon Mannix (Racing Metro se hoof- en hulp-afrigters) oor Frans en sy huidige spelpeil te gesels," het Marinos aan die Independent-koerantgroep gesê.
"Die feit is dat Frans terugkom en dat hy vir die Bokke sal speel indien sy spelpeil goed is en hy geen beserings het nie."
Steyn het glo sowat 2 000 minute vanjaar vir Racing gespeel en Saru dring daarop aan dat hy vier weke blaaskans kry sodra hy sy verpligtinge by die klub nagekom het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24