Francois Hougaard wil nie op vleuel speel
2012-11-22 09:56
Kaapstad – Francois Hougaard, wat tans op vleuel vir die Springbokke speel, sê hy wil in die nabye toekoms slegs vir die skrumskakel-posisie oorweeg word.
Hougaard is die afgelope jare gereeld op vleuel of skrumskakel gekies, maar as dit van die 24-jarige afhang sal Saterdag se toets teen Engeland sy laaste in die nr.11-trui wees.
"Ek verkies dit om skrumskakel te speel en ek dink deur so baie op vleuel te speel het my spel as skrumskakel sleg beïnvloed," het Hougaard Woensdag aan Supersport.com gesê.
“Ek het dit aan die afrigters by die Bulle duidelik gestel dat ek voortaan slegs as skrumskakel oorweeg wil word. Ek sal slegs as skrumskakel ontwikkel as ek gereeld speelkans in die posisie kry."
Hougaard het ook erken dat Heyneke Meyer se besluit om hom op linkervleuel bo Lwazi Mvovo te laat speel, hom ongemaklik maak.
"Ek voel vir Lwazi want hy is 'n top-speler," het Hougaard aan Sport24 gesê.
"Ek wil baie graag hê Lwazi moet speel, want dit is nie lekker vir my nie. Dit voel onregverdig dat ek in sy posisie speel."
Hougaard speel Saterdag in sy 27ste toets vir Suid-Afrika.
Hy het 12 van sy 26 toetse op vleuel gespeel, 13 toetse was in die nr.9-trui en in een wedstryd het Hougaard op heelagter uitgedraf.
Die feit dat sy laaste ses toetse egter almal op vleuel was, dra by tot Hougaard se frustrasie.
Afskoptyd Saterdag op Twickenham is om 16:30.
Suid-Afrika:
15 Zane Kirchner, 14 JP Pietersen, 13 Juan de Jongh, 12 Jean de Villiers (kaptein), 11 Francois Hougaard, 10 Patrick Lambie, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Juandré Kruger, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Gurthrö Steenkamp
Plaasvervangers: 16. Schalk Brits, 17 Heinke van der Merwe, 18 Pat Cilliers, 19 Flip van der Merwe, 20 Marcell Coetzee, 21 Elton Jantjies, 22 Jaco Taute, 23 Lwazi Mvovo
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24