Fouché red Bulle in doodsnikke
2011-09-10 18:53
Bloemfontein – 'n Reuseskop deur Louis Fouché in die doodsnikke van die wedstryd het die Blou Bulle Saterdag van 'n nederlaag teen die Cheetahs gered.
Die eindtelling in dié twee spanne se Curriebeker-stryd was 22-22.
"Ons het 'n paar goed waaraan ons moet werk. Ons probeer net oor die volgende hekkie kom om in die wedloop te bly," het Gary Botha, kaptein van die Bulle, na die wedstryd gesê.
Adriaan Strauss, aan die stuur van die Cheetahs, het moeilik gesluk aan die uitslag.
"Dit was baie teleurstellend vir ons. Ons kon net nie klaarmaak nie. Ek dink ons het 'n goeie wedstryd gehad en ons verdien meer. Ek is eintlik baie trots op die ouens," het hy in 'n onderhoud ná die wedstryd gesê.
Puntemakers:
Cheetahs
Drie: Wilhelm Steenkamp
Doelskop: Johan Goosen
Strafskoppe: Goosen (5)
Blou Bulle
Drie: Francois Venter
Doelskop: Louis Fouche'
Strafskoppe: Fouche' (5)
– Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Nuus24