Force-breier sluit aan by Leeus
2010-05-31 14:25
Johannesburg – Die breier van die Western Force, John Mitchell sal hom binnekort as afrigter by die Leeus vir die Curriebeker-seisoen aansluit, het die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) Sondag bevestig.
“Na heelwat bespiegeling in die media gevolg deur onderhandelinge met John, verskaf dit my groot plesier om te bevestig dat hy by die Leeus in ‘n afrigter-posisie gaan aansluit,” het die uitvoerende hoof van die GLRU, Manie Reyneke, gesê.
GLRU se direkteur van afrigting, Dick Muir, sal saam met die Springbokke as agterlyn-afrigter tydens die Drienasies toer en hom weer by die Leeus aansluit vir die laaste 4-6 weke van die Curriebeker-seisoen.
Tydens Muir se afwesigheid sal Mitchell die Leeus se afrigterspan lei.
Saam met Mitchell sal Johan Ackermann die voorspelers afrig terwyl Carlos Spencer ‘n rol sal speel in die afrigting van die agterlyn.
Mitchell sal aan die einde van die Curriebeker-seisoen terugkeer na die Western Force waar hy nog ‘n kontrak as afrigter tot die einde van die 2011 Super15-seisoen het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Nuus24