Eng rugby bloos oor uitgelekte verslag
2011-11-23 12:07
Londen – Engeland se katastrofiese Wêreldbeker-rugbyveldtog het nog 'n knou gekry nadat vertroulike dokumente van die Engelse rugbyvereniging (RFU) uitgelek het," het die KEO-webtuiste Woensdag berig.
Die Rose is hewig gekritiseer vir hul gedrag tydens die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland.
Talle koerante het berig oor spelers se swak optrede en die substandaard bestuur deur die voormalige hoofafrigter Martin Johnson en sy assistente.
Die RFU het besluit om die span se WB-veldtog te hersien en die vertroulike inligting wat bymekaargemaak is, is per ongeluk uitgelek.
Besonderhede in die verslag kritiseer die bestuurspan, verskeie senior spelers en gesprekke oor geldelike verdienstes.
Die RFU se uitgelekte inligting:
– Die span se aanvalsafrigter, Brian Smith, word beskryf as "besluiteloos, uit sy diepte, moeilik om mee te praat en eenvoudig nie goed genoeg nie". Hy word ook daarvan beskuldig dat hy na Roemenië se span gekyk het vir idees. "As jy begin om die Roemeniërs se bewegings af te loer, moet jy weet jy is in die moeilikheid," het een speler gesê.
– Een speler meen die verdedigingsbreier Mike Ford "het sedert 2007 glad nie vorentoe beweeg nie. En eindelik begin om agteruit te beweeg."
– Die afrigter van die voorspelers, John Wells, "het uitgemis op ernstige detail in lynstaanspel. Daar is verseker 20 afrigters in die Premierliga wat beter is as hy," het een speler gesê.
– Johnson, wat verlede week uit sy pos bedank het, is aangeval vir sy onvermoë om die Queenstown-voorval (Mike Tindall se geflankeerdery met 'n vrou tydens 'n drinksessie by 'n kroeg), te hanteer.
– Aantygings dat senior spelers hul oorgegee het aan drinksessies en die spot gedryf het met spanmaats wat 100% gegee het tydens oefensessies.
Lees die volledige artikel hier.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– KEO