Earl Rose haal nie Cheetahs-groep
2010-12-02 09:00
Bloemfontein - Die Springbok Earl Rose se hoop om weer Super-rugby te speel, het ’n knou gekry toe hy Woensdag weggelaat is uit die Cheetahs se uitgedunde groep.
Die groep vertrek Sondag sonder sy Bokke en beseerdes vir ’n weeklange saamtrek na Jeffreysbaai.
Die afrigter, Naka Drotské, het nie uitgewei oor die spelers wat weggelaat is nie, maar bygevoeg hul kanse is nie heeltemal daarmee heen nie.
Volgens Drotské het die Cheetahs nagenoeg 42 spelers in vanjaar se reeks ingespan.
Die veelsydige Rose is een van vier spelers van Griekwaland-Wes wat teruggestuur is.
Die ander spelers is die senter Jean Stemmet, die vleuel Rocco Jansen en die stut Steph Roberts.
Die stut Kevin Stevens is die enigste speler van die Griffons wat oorbly nadat drie aanvanklik genooi is.
Die Griffons se speler van die jaar, Werner Griesel, en sy sentermaat, Thabang Molefe, is nie behou nie.
“Hulle toon belofte, maar daar is spelers in hul posisie wat ’n stappie bo hulle is,” sê Drotské.
Drotske sê hulle het boonop baie diepte op senter, wat die nuwe Springbok Andries Strauss insluit.
Hy was ook beïndruk met Morgan Newman, die voormalige skitterende Westelike Provinsie-senter.
Die vleuel Jongi Nokwe, die losskakel Sias Ebersohn, die senter Wilmaure Louw en die slotte Hendrik Roodt en Izak van der Westhuizen herstel almal nog van beserings en sal eersdaags weer reg wees.
Die Cheetahs se vier Springbokke wat in Brittanje getoer het, het ’n week verlof voordat hulle weer by die span moet aansluit.
* Die Cheetahs se uitgedunde groep is:
Voorspelers: Adriaan Strauss, Skipper Badenhorst, Ryno Barnes (hakers); Coenie Oosthuizen, Kobus Calldo, WP Nel, Kevin Stevens, Marcel van der Merwe (stutte); Martin Muller, Walti Vermeulen, Hendrik Roodt, Wilhelm Steenkamp, Francois Uys, Izak van der Westhuizen (slotte); Juan Smith, Heinrich Brussow, Kabamba Floors, Ashley Johnson, Devon Raubenheimer, Philip van der Walt, Frans Viljoen, Johan Wessels (losvoorpelers).
Agterspelers: Riaan Viljoen, Hennie Daniller, Riaan Smit (heelagters); Ryno Benjamin, Philip Burger, Fabian Juries, Jongi Nokwe, Philip Snyman (vleuels); Robert Ebersohn, Barry Geel, Morgan Newman, Andries Strauss, Corné Uys, Wilmaure Louw (senters); Naas OIivier, Louis Strydom, Sias Ebersohn (losskakels); Sarel Pretorius, Tewis de Bruyn, Piet van Zyl (skrumskakels).
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24