‘Duimpies dink vinniger as langes’
2011-12-28 09:03
Kaapstad – Kort rugbyspelers dink vinniger as die lang spelers.
Só beweer die Bok-afrigter, Peter de Villiers, wat nou al berug geraak het oor sy omstrede uitsprake.
Die rede daarvoor is dat kort rugbyspelers se verstand “nader aan die grond is” as dié van die langer spelers.
De Villiers het hom gisteroggend in ’n onderhoud met Martelize Brink van RSG vinnig in die kategorie van “kort spelers” geplaas deur te sê dat hy in sy speeldae te kort was om slot te speel, “toe speel ek maar scrum half”.
In die onderhoud op RSG het De Villiers ’n terugskouing gegee op vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland.
Hy het gesê die feit dat die Bokke vroeg uitgeskakel is, het nog nie behoorlik tot hom deurgedring nie, “want daar was nie tyd om daaroor te dink nie.
“Sedert ons teruggekom het uit Nieu-Seeland, het ons soveel liefde en vriendskap ontvang dat ek nog nie tyd gehad het om te dink aan wat werklik daar gebeur het nie.
“Dis soos ’n begrafnis. Jy word gewoonlik eers dae ná die dood en begrafnis van iemand werklik geruk, want jy kry soveel liefde en bystand van almal.”
Hy het vertel as kind het hy, buiten sy pa, geen rolmodelle gehad nie.
“Maar as volwassene het ek drie – Nelson Mandela, Barack Obama en Mahatma Gandhi. Al drie van hulle het ondanks baie terugslae en moeite volhard en sukses bereik.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger