Drotské kies versoolde slot
2011-10-19 08:31
Bloemfontein – Vyf losvoorspelers is in die 22-tal van die Vrystaat-Cheetahs ingesluit vir Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd teen die Haaie in Durban.
Beweeglikheid het duidelik swaar geweeg toe die afrigter van die Cheetahs, Naka Drotské, oor sy agttal besluit het. Hy het die losvoorspeler Philip van der Walt na slot in die beseerde Francois Uys se plek geskuif. Uys het sy ribbes in die stryd teen Griekwas beseer.
Nadat hy verlede week saam met die Springbok-sewesspan geoefen het, is Boom Prinsloo weer beskikbaar en as agtsteman gekies. Ashley Johnson, wat die nr. 8-rugbytrui teen Griekwas gedra het, sal in Van der Walt se nr. 7-trui speel.
Lappies Labuschagné en Johan Wessels is die ander losvoorspelers wat Vrydag na Durban sal vlieg.
“Philip speel tans baie goeie rugby en ’n mens moenie vergeet dat hy op 115 kg swaarder as Francois weeg nie. Beweeglikheid het wel ook ’n rol gespeel toe ek oor die span besluit het,” sê Drotské.
John Plumtree, afrigter van die Haaie, kan Jean Deysel as ’n losvoorspeler as slot kies.
Johnson se skuif kan ook as ’n taktiese een beskou word, aangesien hy vroeër vanjaar sy beste rugby in die Superreeks gespeel het toe Drotské hom doelbewus van agtsteman na flank geskuif het.
Die Vrystaat-breier het toe verduidelik dat Johnson beter as nr.7-flank vaar, aangesien hy grootliks vorentoe speel en meer betrokke by die spel is. Ná dié suksesvolle skuif, het Johnson speelkans vir die Springbokke in die Drienasies-reeks gekry.
“Boom was ook deur die seisoen baie goed gewees en hy het groot impak gemaak wanneer hy opgegaan het. Ek sal graag wil hê dat hy 80 minute moet speel ... veral in ’n halfeindstryd,” sê Drotské.
Goeie nuus vir Cheetahs-ondersteuners is dat die losskakel Johan Goosen van harsingskudding herstel het en die Vrystaat-generaal sal wees in Tewis de Bruyn se plek. Laasgenoemde sit saam met Sias Ebersohn, wat betyds van ’n enkelbesering behoort te herstel, op die bank. Ebersohn het nie Dinsdag saamgeoefen nie en kan gevra word om ’n fiksheidstoets te slaag.
Die vleuel Rayno Benjamin het wel van ’n dyspierbesering herstel en vervang die opwindende Nico Scheepers as regtervleuel.
Scheepers het ná sy goeie Curriebeker-buiging teen die Poubloues sy plek in die 22-tal behou. Enrico Acker, Werner Griesel en Philip Burger, wat plaasvervangers teen Griekwas was, is nie in die 22-tal nie.
Die senter Philip Snyman (lies) en die veelsydige agterspeler Riaan Smit (kuit) het nie gister saamgeoefen nie.
Cheetahs:
Hennie Daniller, Rayno Benjamin, Robert Ebersohn, Andries Strauss, Cameron Jacobs, Johan Goosen, Pieter van Zyl, Boom Prinsloo, Ashley Johnson, Lappies Labuschagné, Izak van der Westhuizen, Philip van der Walt, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Marcel van der Merwe.
PLAASVERVANGERS: Hercu Liebenberg, Trevor Nyakane, Wilhelm Steenkamp, Johan Wessels, Tewis de Bruyn, Sias Ebersohn, Nico Scheepers.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24