'Drie Schalk Burgers beter as een'
2011-10-21 09:07
Johannesburg – Drie Schalk Burgers is beter as een.
Hoe nou?
Dít is hoe die Leeus se afrigter, John Mitchell, vandeesweek tong in die kies probeer het om die gevaarligte wat vir sy rugbyspan flikker noudat die Westelike Provinsie sy geledere met Springbokke gelaai het, uit te doof.
Die Leeus pak die Streeptruie Saterdag hier op Coca-Colapark in vanjaar se tweede Curriebeker-halfeindstryd.
Schalk Burger is die een Bok waaroor Mitchell gesels het, maar hy het ook daarop gewys dat die Leeus hul eie “Schalk Burgers” het.
Daarmee verwys hy na die vurige jong lostrio – Derick Minnie, Michael Rhodes en Josh Strauss – ’n drietal wat dié seisoen groot vordering gemaak het en vir wie Mitchell groot agting het.
“Heel duidelik is die WP se agterlyn versterk,” het hy oor die Bok-agterspelers gesê.
“En jy kan nie die impak van Schalk Burger as ’n individu ignoreer nie. Maar ek glo ek het drie van hulle in my lostrio en drie teen een is nie sleg nie,” het Mitchell geskerts.
Burger se mede-losvoorspelers is die jongelinge Siya Kolisi en Nick Koster, wat dié posisies beman nadat Francois Louw na Bath vertrek het en Duane Vermeulen beseer is.
Veral die tweestryd tussen Burger en Strauss, twee spelers wat ongetwyfeld gebruik gaan word om die bal met aggressie te dra, kan aanskoulik raak.
Albei is ook kultusfigure in hul tuisprovinsies, hoewel Strauss dié status maar eers vanjaar verwerf het.
Dit was nie nodig vir die Leeus-afrigtingspan om vrae te beantwoord nie oor hoeveel die WP baat sal vind by die terugkeer van spelers soos Burger, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Gio Aplon en (groot miskien) ook Bryan Habana, aangesien dit vanself spreek.
“Eindelik weet ons hulle gaan groot teenstand bied,” het Mitchell gesê.
“Ons is gereed daarvoor. Ons moet dit wat óns wil doen toepas.
“Ons gaan nie veel van ons gereelde spelpatroon afwyk nie, al is daar ’n paar klein goedjies waaraan ons gewerk het wat ons Saterdag wil gebruik.”
Die kanse is inderdaad skraal dat die Leeus skielik weens die druk van ’n uitklopwedstryd op tienmanrugby sal staatmaak, selfs al sê Mitchell sy span “moet net wen, al is dit met een punt”.
Met voormalige flanke soos Wikus van Heerden en Franco van der Merwe as die slotpaar, is die Leeus-agttal ’n beweeglike een wat teenstanders met ’n hoë tempo, liewer as brute krag, laat hyg.
Die WP se agttal word as kwesbaar beskou en die Leeus het ’n groter kans om voorlangs te brul as wat die kans die afgelope Saterdag teen die fisieke Haaie was.
Die Leeus het vanjaar se halfeindronde met hoëtempo-rugby gehaal.
As Mitchell een ding duidelik gemaak het, dan is dit dat teenstanders nie gaan voorskryf hoe die Leeus moet speel nie.
Hulle speel Leeus-rugby.
Ja, ’n mens kry deesdae weer só iets, en dit is boonop nogal heel kykbaar.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24