Drie SA slotte teen Bokke?
2010-01-11 07:33
Bloemfontein - Daar is ’n uitstekende kans dat Italië die Springbokke op 19 en 26 Junie in Suid-Afrika met drie Suid-Afrikaanse slotte in die Azzurri se geledere kan pak.
Die Suid-Afrikaner Corniel van Zyl kwalifiseer om Italië vanjaar op die rugbyveld te verteenwoordig nadat die slotte Quintin Geldenhuys en Carlo del Fava al vroeër hul toetsbuiging vir die Italianers gemaak het.
Van Zyl speel die afgelope drie seisoene vir Treviso wat deur die voormalige Springbok-agterspeler Franco Smith afgerig word.
Voor sy vertrek na Italië is Van Zyl as een van die voorste lynstaanmanne in die Curriebeker- en Super14-reekse beskou.
Hy het die Vrystaat-Cheetahs onder meer in 2005 gehelp om hul jarelange Curriebeker-droogte te verbreek.
“Ek is vanjaar verkiesbaar vir Italië, wat beteken dat ek teen die Bokke kan speel. In hierdie stadium is my doelwit om ook vir Italië in volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland te speel.
Dít beteken dat ek my rugby vir langer in Europa sal speel. Ons moet maar sien wat gebeur,” sê Van Zyl.
Volgens hom het hy nog geen amptelike telefoonoproep van Italië se afrigter, Nick Mallett, oor sy moontlike rol in die toetse teen die Bokke gekry nie.
“Ek het by twee geleenthede saam met Nick gholf gespeel. Ons het rugby gesels, maar dit is nooit direk bespreek dat ek kan kwalifiseer nie,” sê Van Zyl.
Dié voormalige Vrystater is tot Junie 2010 deur Treviso gekontrakteer en sê hy geniet sy rugby onder Smith as breier.
“Ek moet sê Franco het ’n baie goeie program vir ons in die gimnasium. Ek weeg ’n bietjie minder as in my speeldae by die Vrystaat – maar dan moet ek ook sê ons braai nie twee keer ’n week skaaptjops nie ...”
Van Zyl se toekoms by Treviso sal daarvan afhang of sy span weer volgende seisoen in die Magnersliga meeding.
- Die Burger