Dood of Dollies?
2011-09-08 09:26
Kaapstad – Isma-eel Dollie sal Saterdag op Nuweland die eerste keer vir die WP se beginspan in die Curriebeker-rugbyreeks uitdraf.
Nadat Demetri Catrakilis verlede naweek teen Griekwas beseer is, moes die Kaapse breierskorps ’n keuse tussen Dollie en Lionel Cronjé in die losskakel-posisie maak.
Laasgenoemde het maar onlangs van ’n kniebesering herstel en is gevolglik vrygestel om wedstrydoefening by die klub Hamiltons te kry.
“Isma-eel oefen van die begin van die seisoen af saam met ons,” het Allister Coetzee, afrigter van die WP, by sy span-aankondiging verduidelik.
Die Kapenaars het vanjaar al ’n halfdosyn losskakels verloor, en Catrakilis se bisepskeur gaan hom vir drie tot vier weke uit aksie hou.
“Dis sleg om soveel spelers te verloor, veral in een posisie.
“Maar ons het bepaalde verantwoordelikhede en take vir elke posisie.
“Isma-eel hoef dus niks aardskuddend te doen nie – beheer net die wedstryd en gee rigting aan die span, kry ons waar ons wil wees. Dis al,” het Coetzee gesê.
Die spanne:
Westelike Provinsie: Conrad Jantjes, Danie Poolman, Johann Sadie, Marcel Brache, JJ Engelbrecht, Isma-eel Dollie, Dewaldt Duvenage, Nick Koster, Tertius Daniller, Nick Fenton-Wells, Quinn Roux, Hilton Lobberts, Frans Malherbe, Tiaan Liebenberg (k), Wicus Blaauw.
PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, Brok Harris, Nizaam Carr, Siya Kolisi, Nic Groom, Berton Klaasen, Steven Hunt.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24