Donker wolk hang oor Blou Bulle
2010-08-16 09:04
Pretoria - Die Blou Bulle verwag Maandag slegte nuus.
Dié rugbyspan se kaptein, Gary Botha, sal waarskynlik Maandagoggend hoor of hy die res van die Curriebeker-reeks gaan misloop nadat hy mediale ligamente in sy een knie seergemaak het in Saterdag se nederlaag van 12-15 teen die Westelike Provinsie op Nuweland.
Botha het die veld reeds in die eerste helfte verlaat en is deur Bandise Maku vervang, wat ywerig was in die los, maar nie baie goed in die lynstane ingegooi het nie.
“Ek het ’n soortgelyke besering in Engeland gehad toe ek verlede jaar daar gespeel het,” het Botha aan Sport24 gesê.
“Tóé was ek vir 12 weke buite aksie. Ek moes toe kies tussen ’n operasie en rehabilitasie en het op laasgenoemde besluit.
Daar sal seker Maandag meer duidelik wees oor die erns van die besering, maar ek is nie baie hoopvol nie.”
Die haker was egter baie tevrede met die manier waarop sy span gespeel het, die nederlaag ten spyt.
“Ek dink ons het goeie werk gedoen. Geen nederlaag is goed nie, maar ons is beslis besig om in die regte rigting te beweeg.”
Maku sal Vrydag teen Griekwas begin, met Henri Bantjes wat as plaasvervanger-haker ingespan sal word.
“Hy is fiks, want hy speel die laaste paar weke klubrugby,” het die Bulle se afrigter, Frans Ludeke, oor Bantjes gesê.
“Hy is iemand wat deur ons strukture kom en was ’n baie goeie speler in die junior spanne. Ek glo hy sal die pyp rook.”
Die breier sal waarskynlik ook planne moet maak om sonder Dewald Potgieter én Derick Kuün te speel nadat albei Saterdag beseer is.
Potgieter behoort deur die jong CJ Stander vervang te word.
Dié jongeling het gewys hy kan saam met die hardebaarde skeer nadat hy as plaasvervanger opgekom het.
Okkie Kruger is ook weer fiks en sal waarskynlik nader getrek word om Kuün te vervang, sou die baljagter nie betyds herstel nie.
Deon Stegmann is egter nog sowat drie weke weg van aksie.
Ludeke glo sy span het die sielkundige stryd teen sy aartsvyand gewen.
“Ons is Kaap toe met min mense wat ons ’n kans gegee het. Tog kon ons dit netsowel deurgetrek het ondanks die terugslae met die beserings.
Dit was beslis baie ontwrigtend en om sake te vererger is almal leiers in die span,” het hy oor die verlies in die wedstryd van Botha, Potgieter en Kuün gesê.
“Die ouens het my regtig trots gemaak. Ons was vir ’n lang ruk kwaai onder druk, maar het vasgebyt.
As ek kyk hoeveel die span verbeter het sedert die ‘B-span’ wat ons vir die Super14-wedstryd Nuweland toe gebring het, is ek baie tevrede.”
Ludeke is nog nie bekommerd nie oor die groot gaping op die puntelys tussen die Bulle en die twee voorlopers, die WP en die Haaie.
Dié spanne speel Saterdag teen mekaar.
“Daar is nog baie rugby om gespeel te word en die reeks is nog ver van verby.”