Dokter Venter dissekteer Bokkies se filosofie
2011-12-01 08:57
Stellenbosch. – Nog selde is ’n rugbyfilosofie so tot op die been oopgevlek as toe Brendan Venter Woensdag die balans tussen struktuur en individualiteit verduidelik het. Letterlik.
Venter, ’n dokter, is een van die nuwe hulpafrigters van die o.20-Bokkies. Hy het vroeër vanjaar ná die o.18-Cravenweek in Kimberley in die bres getree vir die spelers wat hordes mislukte eenhand-aangeë á la Sonny Bill Williams van Nieu-Seeland gegooi het.
Juis omdat jong spelers volgens hom toegelaat moet word om te eksperimenteer en hulself te ontwikkel deur hul helde na te boots. Hy benadruk egter dat daar ’n verskil is tussen spelers wat hul eie ding doen en spelers wat hulself in ’n struktuur uitleef.
“As jy vir ’n operasie gaan en die chirurg vra of dit oraait is as hy ter wille van die pret toelaat dat die narkotiseur aan jou sny, sal jy sê daar kan nie sulke chaos in die teater toegelaat word nie.
“Dieselfde beginsel geld op ’n rugbyveld. Die idee met struktuur is om ’n plan te hê wat spelers toelaat om hul eie ding te doen as hulle die kanse skep.
“As jy in ’n situasie kom waar jy vier spelers teen sewe het, is jy statisties half in die moeilikheid.
“Met jou strukture wil jy die getalle omkeer. Sodra ons dit bereik het, kan ons nie vir individue sê hoe om daardie getalle te gebruik nie. Dis dán dat ons wil sien hoe individue hul natuurlike talente uitleef,” sê hy.
Johan Goosen, ’n briljante Vrystaatse losskakel, is juis ’n speler met wie die kwessie om struktuur en skeppende individue interessant raak. “Hy is ’n generaal en ’n generaal baklei nie voor nie. Hy trek die toutjies. Hy staan terug en kyk waar sy troepe moet aanval. Hy ontleed sy teenstander,” het Venter gesê.
“Binne ’n struktuur skep jy kanse en Dawie (Theron, hoofafrigter van die Bokkies) se struktuur is juis so dat iemand soos Johan sy vaardighede kan laat geld sodra hy en die span daardie getalle of ruimte geskep het.”
Dit is bemoedigend, want die Bokkies is vroeër vanjaar te veel vir hul fiksheid en fisiekheid geloof, terwyl vaardighede nooit met dieselfde erns genoem is nie.
Volgens Theron is Nazeem Adams van die WP juis as gevolg daarvan as hulpafrigter betrek.
“Ek was al baie by Nazeem se oefensessies en ek hou van die wyse waarop hy werk,” sê Theron.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24