Div wag op nuus oor Brüssow, Muller
2011-07-18 21:56
Kaapstad – Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, het Maandag gesê hy sal nog 24 uur wag voordat hy besluit of hy Heinrich Brüssow en Johann Muller gaan kies vir die Springbokke se Drienasies-wedstryd teen Australië in Sydney.
Muller sukkel met ‘n dyspier-probleem, terwyl Brüssow nog herstel van ‘n kniebesering.
Volgens die webwerf ESPNscrum het dié twee Maandag op hul eie geoefen toe die Springbokke hul eerste veldsessie in Australië gehad het.
De Villiers het gesê hy sal Dinsdag besluit of hy Brüssow en Muller gaan oorweeg vir die wedstryd in die ANZ-stadion.
“Johann en Heinrich vorder goed en ek sal hulle nog 24 uur gee voordat ek ‘n finale besluit neem,” het hy gesê.
Die ander 26 lede van die groep het almal deelgeneem aan dié sessie, wat volgens De Villiers ten doel gehad het om die spelers los te kry ná die vertraagde vlug na Sydney.
“Die ouens het lekker geoefen om die vlug uit hul stelsels te kry en nou is ons weer in volle swang.”
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter