Div se pleidooi vir Bokke
2009-12-01 07:46
Pieter Jordaan
Johannesburg - As jy ’n top-sokkerspeler is, is 2010 die jaar waarin jy jou bes sal wil doen, maar volgende jaar kan ’n stryd om oorlewing vir Suid-Afrika se voorste rugbyspelers wees.
Om die paal vir 2011 se Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland te haal, kan dalk ’n tree te ver wees vir sommige spelers wat die laaste paar jaar ’n oorvloed wedstryde op die hoogste vlak gespeel het.
En ná twee toetsnederlae tydens die afgelope Europese toer het Peter de Villiers, die Springbok-afrigter, gister gepleit dat die land se spelers oordeelkundig ingespan moet word.
Dit is ’n onderwerp wat jaarliks aangeroer word, maar die breier meen dit moet behoorlik onder die loep kom nadat ’n uitsonderlike jaar vir SA rugby op ’n laagtepunt geëindig het. “Hierdie was ’n baie lang seisoen en dis duidelik dat baie spelers sielkundig en fisiek uitgeput is,” het De Villiers gister in ’n verklaring gesê.
“Die grootste bekommernis is die sneeubal-effek van die baie rugby wat Springbok-spelers die laaste drie jaar gespeel het, want ons weet dit maak die beseringsrisiko in die volgende jaar soveel groter.”
Volgens die afrigter moet oefen- en speeltye fyn dopgehou word. ’n Werkwinkel tussen die Bok-afrigtingspan en Suid-Afrika se provinsiale afrigters word eersdaags gehou om dié aspekte te bespreek.
Volgens De Villiers het verskeie spelers vanjaar meer as 2 000 minute se rugby gespeel in onder meer die Super14-, die Britse en Ierse Leeus-, die Drienasies- en die Curriebeker-reeks, asook tydens die Europese toer.
“Ten spyte van die teleurstellende einde kan ons nie die suksesse wegneem wat die span die beste ter wêreld in 2009 gemaak het nie.”
Gesoute spelers soos John Smit, Bakkies Botha, Victor Matfield, Fourie du Preez, Schalk Burger en Bryan Habana vorm ’n paar seisoene lank reeds die ruggraat van die Springbok-span.
Die vraag is of hulle nog brandstof in die tenk sal hê om die Bokke in 2011 weer tot glorie te dra as hulle die volgende twee seisoene net soveel as die laaste paar jaar moet speel?
* Du Preez, Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar, het juis gister gesê dat hy amper vroeër vanjaar besluit het om sy stewels ná die 2009-seisoen op te hang omdat hy die spel nie meer geniet het nie.
- Die Burger