Div sál aansoek doen vir Bok-pos
2011-11-04 14:17
Johannesburg – Peter de Villiers sê hy sal beslis weer aansoek doen vir die Bok-afrigterspos wanneer sy kontrak aan die einde van die jaar verstryk.
De Villiers het ná Suid-Afrika se nederlaag in die Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Australië in Nieu-Seeland, aangekondig dat dit vir hom die einde van die pad is en dat hy weet dit is tyd om te gaan.
Dié uitlatings is deur baie mense as 'n bedanking vertolk.
Maar skaars 30 ure later, met die Springbokke se aankoms in Johannesburg, het De Villiers ontken dat hy bedank het.
Hy het verduidelik dat sy verklaring ná afloop van die kwarteindstryd bloot 'n erkenning was van die feit dat dit die laaste wedstyd van sy "huidige kontrak" is.
"Die Bokke het hul laaste wedstryd in die kwarteindronde gespeel, so wat die publiek betref was dit die einde van my pad as Bok-afrigter. Dit is al wat ek probeer sê het," het die afrigter verduidelik.
Maar de Villiers glo dat hy ná vier jaar as hoofafrigter nou die getuigskrif het om as breier voort te gaan.
"Om nie die Wêreldbeker te kon wen nie, voel soos onafgehandelde sake. So as hulle vra vir aansoeke vir die pos sal ek beslis aansoek doen. Hoekom nie? En as ek dit nie kry nie sal ek die nuwe breier ten volle ondersteun," het De Villiers gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24