Div op kortlys
2011-11-17 18:47
Johannesburg – Peter de Villiers sal op die kortlys van kandidate vir die pos van Springbok-afrigter wees, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Donderdag gesê.
Sy kontrak van vier jaar as huidige afrigter verstryk aan die einde van Desember.
Hy het aangedui dat hy weer vir die pos sal aansoek doen, nadat sy span verlede maand in die kwarteindronde van die wêreldbeker deur Australië geklop is.
Saru het by ‘n vergadering van sy uitvoerende raad besluit kandidate vir die pos sal genader word, eerder as om die proses vir aansoeke oop te stel.
“Dit is die mees belangrike besluit wat ons as Saru moet maak en om die beste man vir die pos aan te stel, is van kritieke belang,” het Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, gesê.
‘n Kortlys sal deur die uitvoerende raad opgestel word, met kriteria wat as nodig geag word om die veeleisende vereistes van die pos te hanteer.
“Die vaardighede en kwaliteite wat ‘n Springbok-afrigter moet hê, is tot ‘n klein hoeveelheid potensiële kandidate beperk.
“Sodra ‘n kortlys van die beskikbare kandidate saamgestel is, het die uitvoerende komitee die vryheid om kenners van buite te vra oor die aanstelling.
Hy het gesê die komitee hoop om vroeg volgende jaar ‘n aanstelling te maak.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA