Div mik dwarsklap na Bulls en Stormers
2010-06-08 09:30
Stephen Nell
Kaapstad - Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, is vies vir die Bulls en Stormers oor die wyse waarop hulle Fourie du Preez en Andries Bekker in die Super14-rugbyreeks bestuur het.
Du Preez sal vandag ’n skoueroperasie ondergaan wat hom ses maande op die krukkelys sal hou.
Bekker het weens ’n besering aan sy rug die toets teen Wallis misgeloop en is om dieselfde rede nie vir Saterdag se toets teen Frankryk op Nuweland oorweeg nie.
“Ek is nie baie gelukkig met hoe ons sekere spelers dwarsdeur die Super14 met beserings laat speel het nie,” het De Villiers gister gesê.
“As ek só self-gesentreerd raak dat ek ’n speler een wedstryd te veel laat speel sodat ek ’n wedstryd kan wen, hoop ek iemand roep my tot orde.
“Ons het Fourie baie nodig gehad vir Saterdag se toets, want dis ’n belangrike een vir ons. Een week van sy lewe kan hom die res van sy loopbaan kos. Die Super14 is baie hard en daar is spelers wat met beserings speel wat pynstillers verg, en dit bekommer my.”
Bekker het in elke wedstryd van die Stormers gespeel en De Villiers het bevestig dat die speler se persoonlike omstandighede niks met sy vroeë terugkeer uit Wallis te doen gehad het nie.
“Toe ek daar met hom gesels het, was sy besering die enigste ding waaroor ek my bekommer het.”
Volgens die spandokter, Craig Roberts, is die besering aan Bekker se rug vererger deur die vlug oorsee.
“Daar is baie spasma en ongerief in sy lae rug en hy kon nie vroeër in die week saam met ons oefen nie. Dis waarom ons hom huis toe gestuur het. Dit neem gewoonlik nie meer as ’n week om van daardie soort besering te herstel nie, maar ons sal maar sien hoe hy vorder.”
Alistair Hargreaves is in Bekker se afwesigheid Victor Matfield se adjudant as nr. 5-slot.
Wat skrumskakel betref, moet De Villiers tussen Ricky Januarie en Ruan Pienaar kies.
Die breier was beïndruk deur Januarie se spel.
“Ricky is deur die Walliesers as die speler van die wedstryd aangewys en in ons keurvergadering was hy ook Peter (Jooste) en Mac (Ian McIntosh) se speler van die wedstryd (Saterdag teen Wallis in Cardiff).
“Hy het Juan de Jongh se drie gemaak met die tydsberekening van sy aangee en het ook vir Danie Rossouw in ’n gaping weggestuur wat toe op Dewald Potgieter se drie uitgeloop het.
“Ricky se 11 doodvatte was die tweede meeste in die wedstryd en hy het omkeerbesit voor ons pale gewen...Dis die feite.”
De Villiers kondig vandag sy span vir die toets aan en Januarie is straks in die binnebaan vir die nr. 9-trui.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24