Div dalk getug oor Bees
2010-09-01 12:34
Johannesburg – Peter de Villiers kan dalk binnekort weer voor ‘n tugverhoor beland nadat hy tydens 'n onderhoud gesê het dat die Bloubul-stut en moordverdagte Bees Roux, ten volle deur die Springbokke ondersteun word.
Die Bok-afrigter het voor Roux se hofverskyning Maandag in Pretoria, gesê: “Die span ondersteun hom 100%, nie oor die daad nie maar oor die omstandighede wat daartoe gelei het dat so iets gebeur het".
Roux is Vrydag in hegtenis geneem in verband met die beweerde moord van ‘n metro-polisiebeampte in Hatfield.
Volgens SuperSport wou dit voorkom asof de Villiers in sy onderhoud wou insinueer dat ‘n misverstand tot die voorval gelei het. En dat daar partye is wat Roux se situasie wil gebruik "om rugby skade te berokken deur rugbyspelers te stereotipeer".
“Mense is lelik aan die buitekant, hulle is vuil en probeer ons keer om hoop aan die mense daar buite te gee,” het de Villiers gesê.
Borgtog van R100 000 is aan Roux toegeken.
Oregan Hoskins, Saru se president, het gesê: “Ek het geen kommentaar op hierdie stadium nie, maar ek het Peter se onderhoud gesien. Al wat ek nou wil sien is dat die Springbokke op Saterdag se toets in Bloemfontein konsentreer.”
Maar volgens The Times mag de Villiers aangekla word dat hy die spel, met sy uitlatings, in oneer gebring het.
‘n Senior rugby-amptenaar het oor de Villiers se onderhoud gesê: “Ons is nie net ongelukkig met wat hy gesê het oor die Roux-voorval nie, maar ook oor van sy vorige uitlatings.
- Sport24