Dit moet punte reën...
2011-10-14 11:30
Johannesburg – Minstens met 60, maar verkieslik so in die omgewing van 80.
Dít is die soort punteverskil waarmee die Blou Bulle vanaand teen die Luiperds hier op Loftus Versfeld moet wen as hulle die halfeindronde van die Curriebeker-rugbyreeks op grond van punteverskil wil haal.
Die dun draadjie waaraan die Bulle se Curriebeker-lewens hang, sal geknip word as die Westelike Provinsie môre op Nuweland ’n sege met ’n bonuspunt vir vier drieë oor die Pumas behaal.
Die Pumas word feitlik geen kans gegee nie om te wen teen ’n WP-span wat met Springbokke versterk word.
As die WP wen, maar nie daarin slaag om vier drieë te druk nie en die Bulle behaal wel ’n bonuspunt-sege, sal die oë na die punteverskil skuif.
Dieselfde situasie geld Griekwas, hoewel die gehalte van sy teenstanders, die Vrystaat-Cheetahs, en ’n nog swakker punteverskil hul kanse uiters gering maak.
Die Streeptruie se punteverskil is 71 en die Bulle s’n 13 sodat ’n sege met 60 of meer punte vir die Ligbloues nodig sal wees alvorens hulle ’n realistiese hoop op ’n Streeptrui-glips kan koester.
“Dit gaan moeilik wees om daardie soort punte aan te teken,” het Pine Pienaar, die Bulle se afrigter, erken.
“Ons sal by die wedstrydplan hou, doeltreffend na ons besit kyk en goed doen in ons vaste fasette. Eers dan sal dinge in plek val. Maar ons gaan beslis nie van ons patroon afwyk net om 60 of 70 punte op te stapel nie.”
Die situasie waarin die Bulle hulle bevind, het vandeesweek vir ’n ligte oomblik gesorg toe ’n verslaggewer Pienaar op die weeklikse mediakonferensie aan Brian Baenhoff herinner het.
Baenhoff was die berugte kaalnaeler wat die WP-slot FC Smit in 1991 platgeduik het toe Smit ’n drie teen die Vrystaat wou gaan druk.
Dit het die WP se wenkanse geknou en eindelik het dit veroorsaak dat Noord-Transvaal, pleks van die WP, teen Transvaal in die Curriebeker-eindstryd gespeel het. Die Pretorianers het die eindstryd gewen.
Pienaar is ook gevra of hy nie dalk iemand soos Baenhoff ken wat die WP op ’n soortgelyke wyse teen die Pumas kan keer nie.
“My swaer bly in Stellenbosch en is nogals ’n man wat so iets kan doen,” het Pienaar laggend gesê.
“Ek kan altyd ’n oproep maak en so iets probeer reël.”
Pienaar gaan Zane Kirchner wel in die Blou Bulle se laaste linie van verdediging inspan nadat hy vandeesweek uit Nieu-Seeland teruggekeer het.
Vandag is ook die einde van die seisoen vir ’n Luiperds-span wat wemel van talent, maar wat steeds deur die groot honde van die reeks oorweldig is.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger