‘Dis maar net die begin’
2011-10-26 08:43
Johannesburg. – Daar is ’n duidelike ooreenkoms tussen die wyse waarop John Mitchell Leeus-rugby weer op koers kry en die impak wat Laurie Mains in die laat negentigs op dieselfde span gehad het.
Só glo Leon Boshoff, een van die Leeus-helde wat in 1999 ’n driedrukker was in die Curriebeker-eindstryd wat die span teen die Haaie in Durban gewen het.
Mains, ook ’n Nieu-Seelander en ’n oud-All Black-afrigter, het die Leeus toe begin afrig en het ’n groot impak gehad.
Die 1999-seisoen was die laaste keer dat die beker in Johannesburg tuis was.
Boshoff, deesdae ook ’n Curriebeker-afrigter as breier van die Luiperds, sê dít wat Mitchell met die Leeus vermag het “is fenomenaal”.
Mitchell se Leeus speel Saterdag op Coca-Colapark in die eindstryd teen die einste Haaie.
“John het dit reggekry om met die spelers tot sy beskikking te werk.
“Aan die begin moes hy ’n bietjie uitkap en van spelers ontslae raak – en hy het nou ’n toegewyde groep bymekaar waarmee hy kan werk. Hierdie span stem baie ooreen met die span wat ons destyds (in 1999) gehad het.
“Daar was ook baie ouens wat vir die eerste keer Curriebeker-rugby gespeel het, maar Laurie het die dissipline in plek gekry,” sê Boshoff.
Al gaan die Leeus-span Saterdag op papier sleg teen die Haaie afsteek, dink Boshoff die span met die “grootste wilskrag” gaan dit wen.
In die Leeus-kaptein Josh Strauss en sy spanmaats se spel sien hy ’n groep vir wie dit ’n “saak van die hart is”
Tog wag ’n geweldige uitdadiging teen ’n omgesukkelde Haaie-span, veral voorlangs waar van Suid-Afrika se bestes in swart-en- wit gaan uitdraf.
Boshoff glo nie Mitchell gaan noodwendig ’n noodplan beraam om iemand soos Bismarck du Plessis in die Haaie-voorry aan bande te lê nie.
“Soos wat Laurie Mains gemaak het, dink ek nie hy (Mitchell) gaan op die teenstanders fokus nie, maar liewer op dít wat sy span wil doen.
“As die Leeus sake voor kan beheer, gaan hulle ’n groot wenkans hê.
“Ek dink in die agterlyn is die Haaie ’n bietjie bekommerd.”
Die pynlik netjiese stelskopwerk van Elton Jantjies is volgens hom ook iets wat die Haaie kan laat hoes indien hulle sorgeloos strafskoppe afstaan.
En dan, aan Jantjies se buitekant in die Leeus agterlyn, glo Boshoff staan die manne waaroor die Haaie moet wakker lê.
Dit sluit die jong heelagter Jaco Taute in, wat die eindstryd as die Leeus se grootste aanvalswapen binnegaan.
“Hy is nog jonk, maar speel goeie rugby,” sê Boshoff.
“Wat my beïndruk, is dat hy sy vaardighede deurgaans probeer opknap en verbreed.
“’n Jong speler kom gereeld op die toneel met byvoorbeeld ’n goeie aftrap na regs. Teen die volgende seisoen weet teenstanders dit en reageer daarop.
“Jaco maak steeds foute, maar hy doen dit om homself ’n meer afgeronde speler te maak.”
17%
Uit 6 Curriebeker-eindstryde tuis lees die Leeus se rekord: wen 1, gelykop 1, verloor 4.
50%
In 12 Curriebeker-eindstryde weg van die huis lees die Leeus se rekord: wen 6, verloor 6.
39%
In 18 Curriebeker-eindstryde lees die Leeus se rekord: wen 7, gelykop 1, verloor 10.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24