Dis in Bryan Habana se hande
2010-10-29 08:05
Kaapstad - Is Bryan Habana ’n kwynende superster of steeds die bobaas-vleuel van ouds?
In die volgende maand kan dié vraag beantwoord word en dit begin Saterdag in Durban wanneer die Westelike Provinsie die Haaie in die Curriebeker-eindstryd pak.
Min rugbykenners is vandeesweek bereid om voorspellings te waag oor wat in die Haaitenk gaan gebeur en eindelik kan dit dalk net ’n stukkie Habana-toorkuns wees wat die Goue Beker ’n staanplek in Nuweland gee.
Die WP se afrigter, Allister Coetzee, deel dié siening oor ’n wedstryd waarin die spanne besonder goed teen mekaar opweeg. “Dit kan ’n oomblik van briljantheid of waansin wees wat die verskil maak.
As ’n speler kop verloor en ’n geelkaart afstaan, kan dit beslissend wees. Dis belangrik dat die leiers beheer toepas.
“Die spelers moet hul emosies in toom hou en absoluut gedissiplineerd wees. Die fisieke intensiteit gaan soortgelyk aan dié op toetsvlak wees.”
Habana het goeie herinneringe van die Haaitenk. Dis immers sy doodsnik-drie wat die Super14-eindstryd in 2007 daar vir die Bulls beklink het.
En wie beter om daardie oomblik van briljantheid te verskaf as die man wat saam met Joost van der Westhuizen die rekord van 38 toetsdrieë vir Suid-Afrika hou.
Dis byna ’n uitgemaakte saak dat Habana ook môreaand in die Springbok-groep van 30 vir die Grand Slam-toer ingesluit sal word. Hy sal in Brittanje en Ierland geleentheid kry om die alleenhouer van die rekord te word.
Maar voor dan sal die WP self ’n bietjie Habana-briljantheid waardeer van ’n man wat vanjaar op die internasionale verhoog soos ’n kwynende superster gelyk het.
Habana het ’n paar yslike blapse in die Drienasies-reeks gemaak, maar die goeie nuus is darem dat dit lyk of ’n maand se kondisionering weer vir hom ’n huppel in die stap gegee het.
Sy vertonings in die WP se streeptrui tot dusver lyk belowend. Hy het ywerig voorgekom in die sege van 33-21 oor die Haaie op Nuweland en daarna met kenmerklike opportunisme teen die Vrystaat gedruk en ook sy eie skoppie uit die lug gepluk om vir Gio Aplon ’n drie op ’n skinkbord aan te bied.
Aplon, Juan de Jongh en Jean de Villiers is drie ander spelers wat net so maklik die vonk kan verskaf.
Terwyl hy ’n swak jaar in die Groen-en-Goud beleef het, is Habana se drieërekord in Kaapse spanne nie sleg nie. Hy het in die Super14-reeks sewe drieë gedruk, insluitend een met ’n kenmerkende onderskep-poging teen die Bulls in die eindstryd in Soweto.
Die Stormers het egter toe al ’n verlore stryd gevoer, maar die onderskepdrie wys weer eens dat rugby se aartsopportunis op die vleuel steeds skerp is.
Hoewel 2010 gemeet aan Habana se standaarde tot dusver nie ’n goeie oesjaar was nie, bly dié vleuel ’n speler vir die groot oomblik en uit die WP se perspektief raak die oomblik nie groter as sy eerste Curriebeker-eindstryd sedert 2001 nie.
As daar ooit ’n gepaste geleentheid vir Habana was om die debat oor sy spelpeil vir goed te beëindig, is dit môre in Durban.
Oor na jou, Bryan.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24