Die wat Div nie verstaan, het ‘’n gebrek’
2011-12-06 09:56
Johannesburg. – Mense wat sy soms “vreemde” opmerkings nie verstaan nie, “het ’n gebrek aan ruimtelike perspektief”.
Só het die Bok-afrigter, Peter de Villiers Maandag op die kykNET-program Ontbytsake gesê. Met ’n groot glimlag het hy gesê hy “kan alles doen”. Hy kan selfs ballet doen, “maar net nie so goed nie”.
Oor een van sy opmerkings wat sommige mense rooi laat sien het – dat mense wat nie hou van die harde fisieke spel in rugby nie, eerder moet gaan dans – sê hy “die feit is dat dans en rugby albei kontaksportsoorte is”.
“Dit is net die vorm van kontak wat verskil. In rugby het jy, anders as in dans, harde, fisieke kontakspelers nodig, soos Schalk Burger en Bakkies Botha.
“Ek dink mense wat my kritiseer oor wat ek sê, het ’n probleem. Hulle het ’n gebrek aan ruimtelike perspektief.”
Hy sê die All Blacks is cheaters. Toe hy daarop gewys is dat die Springbokke ook soms cheat, het hy gesê die Bokke is “soos my eie kinders. En soos enige pa praat jy as afrigter mos nie na buite oor jou eie kinders se verkeerde dinge nie.”
Hy glo steeds vas dat, “as dit die Here se wil is”, sy kontrak as Bok-afrigter hernu sal word.
“Saru (die Suid-Afrikaanse Rugby-unie) en mense kan maar praat. Hulle is nie in beheer van my lewe nie. Net God is.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24