Die dag toe Matfield besef hy ís windgat
2011-11-13 08:06
Johannesburg – Kort nadat Jake White in 2007 trots die Wêreldbeker in Frankryk omhoog gehou het, het sy stram verhouding met Victor Matfield tot ’n hewige uitbarsting gekom.
Matfield het gesê hy beskou die destydse Bulle-afrigter Heyneke Meyer as ’n beter afrigter as White.
“Jake het ontplof. Hy het oor die tafel gespring en my aan die kraag gegryp,” sê Matfield in sy outobiografie, Victor: My reis, oor dié amperse vuisgeveg in die klubhuis van die Fancourt-gholfklub buite George. “Hoe kon ek so iets sê ’n paar weke nadat hy die Wêreldbeker gewen het? Hy (White) kon kole kou van woede. ‘Jy en Fourie (du Preez) dink julle kan almal intimideer, maar ek sal dit nie toelaat nie,’” het White getier.
Dié voorval was tydens ’n gholftoernooi in Desember 2007 waarheen Bokke soos Du Preez en Schalk Burger ook genooi is.
Dit was kort ná die triomf op 20 Oktober 2007 in Parys waar die Springbokke Engeland met 15-6 geklop het om die Webb Ellis-beker vir die tweede keer te wen.
Matfield is as speler van die wedstryd aangewys.
By Fancourt is daar teen 01:00 nog gekuier, skryf Matfield.
Maar toe raak dinge warm toe die gesprek draai na wie by White moet oorneem as Bok-afrigter. White het Allister Coetzee gesteun wat vier jaar lank sy hulpafrigter was.
Matfield het saamgestem dat Coetzee ’n goeie job sou doen, maar het gemeen Meyer sou die beste aanstelling wees.
White het verskil. Toe gooi Matfield die vuurhoutjie in die kruitvat.
“Jake, jy het sukses met die Bokke behaal. Ek is deur julle albei afgerig en Heyneke is die beste afrigter onder wie ek nog gespeel het.”
Matfield skryf dit was ’n onaangename voorval, maar White het hom die volgende dag om verskoning gevra.
Hy het self erken dat hy sy woorde beter moes gekies het.
“Ek het hom daarna weer raakgeloop en ons het mekaar darem gegroet. Maar ek het besef ons sal nooit boesemvriende wees nie.”
Hul eerste onstuimige ontmoeting in 2004 was ’n voorspel van wat deur die jare sou volg. Dít was kort nadat White aangewys is as Rudolf Straeuli se opvolger as Bok-afrigter.
Toe White bel en sê hulle moet in ’n hotel in Sandton bymekaarkom, was Matfield opgewonde.
Hy het gedink dis om die Bok-kapteinskap en sy moontlike rol as senior speler te bespreek.
Hy was verkeerd.
“Ek wil hê jy moet weet jy is deel van my planne,” het White gesê.
“Maar as jy deel van die span wil wees, sal jy jou hare moet sny en jou houding verander.”
Matfield kon sy ore nie glo nie. Hy het White gevra om te verduidelik.
“Dis vir my duidelik dat jy jouself altyd op die ‘regte plek’ posisioneer as foto’s geneem word en dat jou beeld vir jou te belangrik is,” het White gesê.
“Het jy al ooit ’n internasionale voorspeler met lang hare gesien?”
Matfield het gewonder: “Wat het die lengte van my hare te doen met hoe ek rugby speel?”
Hy skryf in sy outobiografie dit was buite die kwessie dat hy sy hare sou sny. “Nog iemand met lekker lang hare was Schalk Burger.
“Ja, Jake het met hom ook oor sy hare gepraat, maar nie so ernstig nie, vertel hy (Burger) toe ek hom bel. Sy hare was seker korter as myne. Hy was ook nie van plan om sy lokke te laat knip nie.”
Ondanks hul lang hare het Matfield en Burger die toetsspan teen Ierland gehaal. “Ek het wel my hare voor die oefenkamp in Bloemfontein effens korter laat sny, maar toe ek daar aankom wou Jake weet hoekom ek dit nie kort gesny het nie.
“‘Maar coach, ek hét dit gesny.’ As hy my nie wou kies nie en dit oor my hare, was hy welkom om dit te doen, het ek bygevoeg.
“Oor die volgende vier jaar sou daar nog baie stampe en stote wees,” skryf Matfield.
Maar hy loof White as afrigter.
“Die groot ding wat Jake reggekry het, was om ons almal weer die waarde van die Bok-trui te laat besef,” sê Matfield met verwysing na die laagtepunt van die Wêreldbeker-fiasko in 2003 onder die afrigterskap van Straeuli en die Kamp Staaldraad-skandaal wat dít voorafgegaan het.
“Die ander sterk punt van Jake was sy deeglikheid. Sy oefensessies was presies uitgewerk en hy het geweet wat hy wil bereik.”
En, erken Matfield later, White hét ’n punt gehad oor sy windgat-houding. Dit was Meyer wat dié besef by hom tuisgebring het.
Matfield is in 2004 voor die weg-Drienasietoetse teen Australië en Nieu-Seeland deur die Bok-dokter huis toe gestuur ná ’n kniebesering, hoewel die Bok-slot geglo het hy is reg om te speel.
Om aan White ’n punt te bewys, het hy vir die Blou Bulle teen die Leeus gespeel op dieselfde dag as wat die Bokke met 21-23 teen die All Blacks in Christchurch verloor het.
Meyer het probeer om die lug te suiwer toe die Springbokke na Suid-Afrika teruggekeer het.
Meyer het ’n vergadering tussen hom, White en Matfield gereël.
Toe White weer “dieselfde stories” ophaal oor sy hare en houding, het Matfield gesê dis omdat White hom nie regtig verstaan nie.
Daarop het Meyer vir White verseker van Matfield se werketiek.
Maar toe verstom Meyer hom.
“Jake se mening oor jou is nie heeltemal verkeerd nie, Victor,” het Meyer gesê. “Jy ry altyd die nuutste en blinkste karre, trek altyd anders as die res van die span aan en hou van die kollig.”
Matfield skryf: “Ek was onthuts, maar dit was ’n oomblik van waarheid. Vir die eerste keer in my lewe het ek besef dis waar: Ek hou van aandag. Al die bewyse was daar.
“Ek het ’n goudgeel Nissan 350Z-sportmotor gery, sonder ’n hemp in tydskrif-advertensies verskyn en het altyd anders probeer wees.
“Dáár het ek besef dat ek soms die minste moet wees. Die gesprek het my verander en geleer om aan te pas by ander mense en nie net my eie kop te volg nie.”
***
Victor Matfield maak gereed vir ’n lewe ná rugby ... in rugby, berig J.J. Harmse.
Die veteraan-Springbokslot se speeldae is oor drie naweke amptelik verby wanneer hy op Twickenham vir die Britse Barbarians teen die Wallabies uitdraf.
Dit is sy 345ste eersterangse wedstryd, maar hy pak nog nie sy sweetpak weg nie. Hy verruil bloot sy tokse vir ’n tekenbord en fluitjie.
“Ek gaan die Bulls help as tegniese adviseur en nog baie tyd op die rugbyveld deurbring,” het hy gesê.
Hy gaan ook die spel op SuperSport se rugbykanale ontleed.
“Ek wil graag ’n bietjie ontleding doen vir die kyker en ekstra waarde toevoeg, maar moet nog met hulle (SuperSport) praat oor presies hoe ek dit gaan doen,” het hy gesê.
In sy derde “tydverdryf” kom sy aandele in ’n handvol restaurante ter sprake. “Ek is ook by ’n maatskappy, WAD Capital Investments, betrokke. Hulle ondersoek nuwe sakegeleenthede.
“Dit is belangrik vir my om ook iets buite die spel te hê, want ek het al gesien hoe meedoënloos rugby vir afrigters se loopbane kan wees.
“Ek wil egter afrig, dit is my mikpunt.”
En ja, die droom om eendag Bok-afrigter te word, is daar.
Matfield sal nie die eerste wees wat dadelik van speler na afrigter spring nie, met twee Springbok-kollegas, Rassie Erasmus en Naka Drotské, sprekende voorbeelde.
Het hy dalk in sy boek dinge teruggehou omdat hy nie brûe wou verbrand nie, juis omdat hy as afrigter in die spel wil bly?
“Nee, ek het nie. Daar is sekere sensitiewe goed waar mens nie álles wil vertel nie en ek seker harder mee kon gewees het, maar ek wou nie die boek skryf om mense by te kom nie.
“Dit is juis eerder om die wonderlike pad wat ek kon loop, met mense te deel,” het hy gesê.
“Ek is bly ek kan op my eie terme uittree ná ’n lang loopbaan vol hoogtepunte en bitter min ernstige beserings. Rugby is in my bloed en ek kan nie myself buite die spel sien nie.
“Ek het geen probleem met die tegniese aspekte van die spel nie, ken die kultuur, veral by die Bulls en weet wat werk en wat nie. Uiteindelik sien ek myself as ’n hoof-afrigter,” het hy gesê.
Een wat Boland (waar hy aandele het) of die Bulls wil afrig.
“Die visie wat ek en ’n paar ander mense vir Boland het word op die oomblik gekortwiek deur die stelsel, want die moontlikheid is skraal dat Boland byvoorbeeld nou in die Curriebeker en later in SuperRugby sal kan speel as ’n span, so die groei is beperk. Ek het reeds lekker gesprekke met die Bulls se afrigtingskorps gehad en sien baie uit na my nuwe rol in die span.”
***
Victor Matfield sê twee keer in Victor: My reis hy beskou John Smit as die beste Springbok-kaptein nóg.
Matfield vertel van die ontsettende druk waaronder Smit van die publiek en die media was oor sy spelpeil voor die laaste Wêreldbeker-toernooi.
Dit is vererger toe Peter de Villiers aan Matfield gesê het hý is kaptein vir die Drienasie-toets teen Nieu-Seeland in Port Elizabeth en De Villiers Smit eers etlike dae later daarvan vertel het.
Op pad oefenveld toe die volgende dag het Smit langs Matfield in die bus kom sit.
“Dit was duidelik dat iets hom pla, maar ek kon nie dadelik agterkom of hy kwaad of hartseer was nie.”
Smit het hom gevra: “Vic, kan ek as kaptein nog op jou steun staatmaak?”
“Dit het my heeltemal onkant betrap, want ek het nie gedink John sou daaroor twyfel nie. Ek het hom verseker dat ek hom steeds ondersteun soos nog altyd die geval was.
“Toe vra hy die moeiliker vraag: ‘Dink jy ek verdien dit nog om bo Bismarck (du Plessis) die wedstryd op haker te begin?’”
Smit het gesê Matfield moet daaroor gaan dink voordat hy antwoord.
“John se vraag het deur my kop bly maal,” skryf Matfield. “Ek het nie geweet wat die antwoord is nie.”
Nadat hy met sy vrou, Monja, en boesemvriend Fourie du Preez gesels het, is hy na Smit se kamer toe.
“John, glo jy nog in jouself?” het Matfield sy vraag beantwoord.
“Glo jy, jy het nog wat dit verg om ’n toets vir die Bokke te begin? Want dis al wat tel.”
Smit het gesê hy glo in homself, maar het gevoel hy was in dieselfde situasie as ’n paar maande tevore by die Sharks toe hy gereeld op die bank gesit het.
En dít was nie goed vir die span nie.
Matfield het Smit weer van sy steun verseker en dat dit nie sy ambisie was om die Bokke se Wêreldbeker-kaptein te wees nie.
“John het ná ons gesprek sigbaar beter gevoel en ons het oor koeitjies en kalfies gesels.”
Nadat die Bokke met 9-11 deur Australië uit die Wêreldbeker geboender is, het Matfield Smit namens die span in die kleedkamer bedank.
“Ek het dankie gesê vir sewe jaar se leierskap en hoe hy elke dag oor elke speler en die span se regte gewaak het.”
Hy noem Smit ’n wonderlike vriend.
- Rapport