Die Prins gee Leeus rigting met spel
2011-10-25 10:10
Johannesburg. – Toe Elton Jantjies vroeër vanjaar met ’n harde slag in die genadelose Super Rugby-reeks aarde toe gebring is, was daar diegene wat vroeg al vertroue in die Leeus se nuwe losskakel-kroonprins verloor het.
’n Mens kan nogal verstaan waarom die Leeus-ondersteuners skepties is om vroeë positiewe tekens gou as ’n antwoord op hul gebede te beskou nadat jare se sogenaamde “bouprosesse” by dié unie ongeslaagd was.
Noudat Jantjies in die tweede agtereenvolgende reeks om die Curriebeker die verbeelding met sy opwindende spel aangryp, begin die meeste te glo hy is wel die “Prins” wat onder “King” Carlos Spencer se afrigting die kitaar vir die Leeus gaan slaan.
Slegs Frederic Michalak van die Haaie, wat in Saterdag se Curriebeker-eindstryd op Coca-Colapark Jantjies se regstreekse teenstander behoort te wees, het vanjaar meer Curriebeker-punte as die jongeling van die Leeus aangeteken.
Jantjies word nou deur talle rugbygeesdriftiges as die beste aanvallende losskakel in die reeks beskou.
“Ek dink Elton het baie, baie goed gedoen,” het John Mitchell, afrigter van die Leeus, oor Jantjies gesê.
“Hy is ’n uitstaande jong man en het vanjaar baie geleer.”
Die 21-jarige Jantjies se verskyning op die toneel as 19-jarige het verlede jaar byna saamgeval met die ommekeer in die Leeus se spelpeil.
Intussen was daar wel die Super Rugby-reeks waarin die Lions, ongeag ’n opwaartse kurwe in hul vertonings, net drie uit 16 wedstryde gewen het.
“Ek dink ons hele groep het baie gegroei sedert die Super Rugby-reeks. Dit was deel van die pad wat ons moes stap en van ons ontwikkeling,” het Mitchell gesê.
“Ons begin nou te verstaan hoe om moeilike tye te trotseer.”
Deel van dié moeilike tye was die afgelope Saterdag se halfeindstryd teen die Westelike Provinsie.
“Ons fisieke spel was goed. Ons moes (teen die WP) die stoeigeveg wen – en ons het. Dan het ons dit nog geniet ook.”
Teen die Haaie wag ’n veel groter stoeigeveg, met Suid-Afrikaanse rugby se groot “stoeier”, Bismarck du Plessis, as ’n teenstander.
“Dit is nog ’n week en nog ’n wedstryd en ons moet dit só benader. Ons het onsself nou ’n geleentheid gegee om te wen en ek dink ons kan nog beter speel,” het die Leeus se afrigter gesê.
Die Leeus het ook ’n skoon beseringslys ná hul harde halfeindstryd. Mitchell moet wel vandeesweek besluit of hy Cobus Grobbelaar, wat verlede week weer ná sy ribbesering as ’n plaasvervanger gekies is, in die beginspan gaan insluit.
Michael Rhodes het in Grobbelaar se afwesigheid ’n barshou teen die WP gespeel en het allig vir hom ’n plek in die span vir die eindstryd bespreek.
Die ervare Mark Lawrence sal Saterdag sy tweede Curriebeker-eindstryd as skeidsregter hanteer.
Lawrence het ook in 2007 die fluitjie in die eindstryd gedra, asook in 2008 se Super14-eindstryd.
Dié 46-jarige blaser het onlangs sy uittrede as toetsskeidsregter aangekondig.
Dit was juis Lawrence se vertoning in die kragmeting met Griekwaland-Wes vroeër vanjaar in die reeks wat Mitchell woedend gemaak het.
Mitchell was veral ontevrede oor die twee geelkaarte wat aan sy spelers gewys is en het agterna na Lawrence gestap en aan hom gesê hy is “baie teleurgesteld.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24