Dié Bulls soek respek
2011-04-30 07:00
Pretoria - Dit is nie toevallig nie dat twee van die ystermanne in die Crusaders se pak voorspelers, Owen Franks en Kieran Reid, twee Bulls-spelers as hul moeilikste teenstanders tot nog toe beskou.
Franks beskryf sy voorrystryde met Gurthrö Steenkamp as epies en Reid reken Danie Rossouw is die moeilikste teenstander teen wie hy nog gespeel het.
Dit is seker nie verbasend dat die Bulls so hoog op die Kiwi’s se waardeskaal is nie.
Dié twee spanne het immers in die laaste vier jaar in klassieke wedstryde teen mekaar gespeel.
In daardie tyd het die Bulls elke keer koning gekraai.
Kyk ’n mens na die Bulls se peil vanjaar, veral hier op Loftus Versfeld, moet jy jouself afvra wat dié twee Crusaders gerook het, want die Bulls is nie ’n skaduwee van die span wat deur die jare heen soveel respek by die Nieu-Seelanders ontlok het nie.
Vyf nederlae en vier seges in die Super Rugbyreeks, waarvan drie teen die onderste twee spanne in Suid-Afrika en die ander teen die melkkoei in Nieu-Seeland, is die koue feite oor ’n kampioenspan wat skynbaar sy drif, durf, hart en selfs sy siel verloor het.
Daar word vertel van ’n baie senior speler wat in trane was ná ’n onlangse nederlaag in Australië, so dalk is daar tóg nog ’n bietjie passie oor vir wat die Bulls was – en dalk steeds kan wees. Die Bulls het gevra vir nog één kans om ’n ommekeer in hul seisoen te bewerkstellig.
Één kans om te wys daar is nog trots in die trui. Één kans om te wys hulle is kampioene – en één kans om te wys waarom hulle nie na die ashoop van verloorders gestuur moet word nie.
Daardie kans is vandag, maar een ding is baie seker. Die span van die Chiefs gaan nie enige respek hê vir die Bulls nie.
Hulle sien ’n ernstig gewonde teenstander en wil die doodskoot toedien.
Hulle lek hul lippe af vir die omgekeerde besit wat die Bulls vanjaar so mildelik aan teenstanders uitdeel; hulle kan nie wag om deur halfhartige duikslae te hardloop nie en kan sekerlik nie wag om te sien hoe ongedissiplineerde spel die strop stywer en stywer om die Bulls se nekke trek nie.
Wat gaan hulle kry?
Daardie vraag kan ongelukkig nie deur dié waarnemer beantwoord word nie. Hy wil graag sê die Chiefs gaan hulle vasloop teen ’n span wat lank na homself in die spieël gekyk het.
En eers weggekyk het omdat hy nie hou van wat hy sien nie, maar toe weer teruggekyk het met staal in die oë.
’n Span wat vergeet van môre se Bok-oefenkamp en wat oor ’n paar maande in Nieu-Seeland plaasvind. Spelers wat op vandag se stryd gefokus is en bereid is om hul lywe op die spel te plaas. ’n Span wat die toeskouers op Loftus weer hoop en vertroue sal gee.
En wat Franks en Reid nie soos gekke sal laat lyk nie.
Dewald Potgieter kon nie Vrydagmiddag sy fiksheidstoets slaag nie en word deur Danie Rossouw as nr.7-flank vervang.
Spanne
Bulls:
Zane Kirchner, Bjorn Basson, Stephan Dippenaar, Wynand Olivier, Francois Hougaard, Morné Steyn, Fourie du Preez, Pierre Spies, Danie Rossouw, Deon Stegmann, Victor Matfield (k), Bakkies Botha, Werner Kruger, Gary Botha, Dean Greyling. PLAASVERVANGERS: Chiliboy Ralepelle, Rossouw de Klerk, Flip van der Merwe, Derick Kuün, Francois Brummer, Gerhard van den Heever, Akona Ndungane.
Chiefs:
Mils Muliaina, Lelia Masaga, Richard Kahui, Dwayne Sweeney, Save Tokula, Stephen Donald, Brendon Leonard, Fritz Lee, Scott Waldrom, Liam Messam, Romana Graham, Craig Clarke, Ben Afeaki, Aled de Malmanche, Toby Smith. PLAASVERVANGERS: Hika Elliot, Sona Taumalolo, Isaac Ross, Sam Cane, Tawera Kerr-Barlow, Tim Nanai-Williams, Jackson Willison.
Skeidsregter: Craig Joubert.
Assistent-skeidsregters: Tiaan Jonker en Marc van Zyl.
TV-skeidsregter: Gerrie Coetzee.
Afskop: 17:05.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24