De Villiers lei WP met WB-Bokke
2011-10-14 08:08
Kaapstad – Die Pumas trek ná rustyd ’n ander stel rugby-truie aan om hul Curriebeker-teenstanders te ontsenu. Die Westelike Provinsie stuur Springbokke op.
Allister Coetzee, hoofafrigter van die Streeptruie, het Jean de Villiers gister aangewys as sy kaptein vir môre se wedstryd op Nuweland teen die Pumas. Dis klaar lekker.
Nóg lekkerder is die vier Springbokke wat Coetzee op sy plaasvervangersbank gekies het – Schalk Burger, Jaque Fourie, Tiaan Liebenberg en Conrad Jantjes. Voorts is Juan de Jongh as De Villiers se sentermaat gekies, Gio Aplon as heelagter en Bryan Habana in die nr.11-trui.
“Jaque en Schalk het die meeste rugby gespeel in die Wêreldbeker-toernooi, so ons sal hulle van die bank af kans gee,” het Coetzee die aanwending van hierdie Springbokke verduidelik.
Hoewel die WP dié naweek nog vir die uitspeelrondes van die Curriebeker-reeks moet kwalifiseer, het die breier sy span gekies met die oog op die waarskynlike halfeindstryd aanstaande week in Johannesburg teen die Leeus.
“Hoewel ons op papier ’n indrukwekkende span het, belowe ek jou ons gaan hierdie naweek nog heelwat foute maak – maar liewers nou as volgende week,” het Coetzee gesê.
Voorts behou Nic Groom die skrumskakel-trui nadat Dewaldt Duvenage Woensdag ’n toonoperasie ondergaan het, wat hom die res van die seisoen uit aksie gaan hou.
Ook De Kock Steenkamp het met ’n maagkwaal in die hospitaal gedraai.
Deon Fourie vervang, soos verwag, vir Tiaan Liebenberg as haker. Met die WP wat waarskynlik vier drieë teen die Pumas sal moet druk, hoop die breierskorps dat Fourie van meet af aan die vuur sal stook.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger