Crusaders huldig myn-slagoffers
2010-12-17 22:40
Christchurch - Nieu-Seeland se Crusaders-rugbyspan gaan hul eerste Super15-tuiswedstryd aanstaande jaar, aan die slagoffers van die Pike River-mynramp opdra.
Volgens die allblacks.com webtuiste, sal die span die rooi en wit truie van die plaaslike West Coast ligaklub dra wanneer hulle teen die Waratahs op 4 Maart in Christchurch uitdraf.
Die 22-truie sal deur die spelers wat dit gedra het, geteken word en opgeveil word vir die Pike River-gedenkfonds.
Die Crusaders se nege All Blacks, Richie McCaw, Dan Carter, Sonny Bill Williams, Brad Thorn, Owen Franks, Sam Whitelock, Kieran Read, Andy Ellis en Ben Franks, sal ook die Greymouth en Hokitika-gebiede op 2 Februarie besoek.
Todd Blackadder, die Crusaders se afrigter, het Vrydag gesê dit is 'n klein gebaar teenoor die gemeenskap wat deur die mynramp, waarin 29 mans hul lewens in November verloor het, getref is.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24