Coetzee g'n paniekerig oor WP
2010-09-06 09:04
Johannesburg - Allister Coetzee is nie paniekbevange oor die Westelike Provinsie se Curriebeker-insinking nie, want dié afrigter weet waar sy rugbyspan se probleem lê.
Die WP se derde agtereenvolgende nederlaag was die slegste van almal toe die Leeus hom Vrydagaand op Coca-Colapark met 46-28 uitoorlê het.
Met wedstryde teen die Luiperds, Griekwas en die Pumas wat nou vir die Streeptruie voorlê, is die kanse goed dat hul veldtog in die komende weke weer op koers kan kom.
Daarbenewens gaan die WP, noudat die Drienasies-reeks verby is, deur ’n paar Springbokke versterk word.
“Ons wéét die reeks is nog lank,” het Coetzee ná sy span se nederlaag gesê.
“Daar is nie groot gapings op die puntelys nie, al het die Haaie ’n goeie voorsprong opgebou. Ons kom nou teen die Luiperds en die Pumas te staan en dan volg Griekwas en die Haaie op ons tuisveld.
“Ons sal nie paniekerig raak nie. Jy raak net paniekerig as jy nie weet wat verkeerd is nie en jy het nie ’n plan om dit reg te stel nie.”
Die WP het in die eerste helfte van die wedstryd teen die Leeus boonop die agterspelers Tim Whitehead en Frikkie Welsh weens beserings verloor nadat hulle vóór die wedstryd al deur ander beserings ontwrig is.
“Dit kan ’n span erg ontwrig. Maar gelukkig kry ons nou spelers soos Gio Aplon, Juan de Jongh en Jean de Villiers terug. “Ons moet teen die Luiperds wen om selfvertroue terug te kry. Ons is steeds ’n goeie span wanneer ons die bal dra en het drie goeie drieë teen die Leeus gedruk,” het Coetzee gesê.
Hy wou nie sy span se insinking in die laaste 20 minute teen die Leeus aan ’n gebrek aan fiksheid toeskryf nie. Hy het liewer die Leeus se opportunisme as sy span se doodsteek uitgelig.
“Dit haal baie uit ’n span uit as jy op die aanval ’n fout maak en dan 40 meter moet terugval om te verdedig. Wys my enige afrigter wat vir noodverdediging vanaf omkeerbesit beplan; niemand doen dit nie, want ’n mens kan nie.
“Ek moet die Leeus wel loof vir die manier waarop hulle die omkeerbesit aangewend het. Hulle het soveel vaart in hul span.”
Die WP-kaptein, Anton van Zyl, sê die span het in die rustyd gepraat oor hoe belangrik dit is om die bal in die regte veldposisies te behou en om dissipline te handhaaf.
“Maar in die tweede helfte was ons dissipline nie goed genoeg nie en ons kon nie aan die bal klou nie.
“Die Leeus is ’n trotse span en ek kan nie onthou wanneer laas die WP op Coca-Colapark gewen het nie. Ons het geweet hulle is gevaarlik van omkeerbesit af, en hulle het dit wéér gewys.”
Sport24