Chiliboy of Pierre kan Bulls lei
2011-11-15 07:00
Pretoria – Die gemiddelde Loftus-ganger sou sekerlik “gekykweer” het, maar já, dit was die Bulls wat Maandag hier op die B-veld begin sweet het vir Super Rugby-glorie in 2012.
Weg is die bekende gesigte van Victor Matfield, Derick Kuün en Jaco Pretorius (uitgetree), Bakkies Botha, Gary Botha, Gurthrö Steenkamp, Fourie du Preez, Danie Rossouw (oorsee) en Gerhard van den Heever, Stephan Dippenaar, Stefan Watermeyer, Francois Brummer en Jaco van der Westhuyzen (vrygestel).
Tussen dié spelers was daar drie 100-talle in Superrugby en minstens nóg 400 wedstryde se ondervinding, maar die afwesigheid van dié ervaring het geensins die geesdrif gedemp waarmee junior spelers nou die rolle van seniors in die groep oorgeneem het nie.
Ten minste was die suksesvolste Superrugby-afrigter in die land, Frans Ludeke, steeds daar en hy kon ’n verwelkomende hand uitsteek na die drie Kaapse nuwelinge, Johann Sadie, JJ Engelbrecht en Lionel Cronjé, maar die jong Keniaanse ster, Daniel Adongo, sal eers vandag aanmeld.
Adongo, een van die opwindendste jong kantmanne in plaaslike rugby, is vroeër deur die Sharks vrygestel sodat hy onmiddellik by die Bulls kan inval.
Die Bulls het dié nuus Maandag bekend gemaak en volgens hul oorhoofse rugbybaas, Heyneke Meyer, is Adongo juis die soort atleet waarna hulle by die Bulls soek.
DieKeniaanhardloopdie 40 m-spoedtoets in onder vyf sekondes en is al deur Paul Treu raakgesien, maar kon weens sy burgerskap nie deur die Bokke se sewesbreier benut word nie.
Dit sal interessant wees om te sien hoe Ludeke dié Oos-Afrikaan aanwend.
Een van Ludeke se ander uitdagings sal wees om nog nuwerige gesigte soos Willie Wepener, Jacques Potgieter en Jano Vermaak, saam met ’n hele klompie jonger sterre soos Francois Venter, Arno Botha, Louis Fouché en die Pumas se Dawie Steyn aan die Bulls-kultuur en ’n paar terugkerende Wêreldbeker-Bokke “bekend te stel”.
Twee van hulle, Pierre Spies en Chiliboy Ralepelle, is sterk kandidate om die rol van kaptein by Matfield oor te neem.
Albei is gevestigde Springbokke en verseker van hul plekke in die Bulls se beginspan, word gerespekteer as leiers en is welsprekend.
Ander kandidate sluit Dewald Potgieter, Wilhelm Steenkamp en Wynand Olivier in, maar laasgenoemde sal sekerlik die gebruiklike onderkapteinsrol vervul.
Steenkamp het vanjaar by tye die Cheetahs in Super Rugby aangevoer en Potgieter het al vir die Springbokke in toerwedstryde voor gedraf.
Die Bulls stel môre tydens ’n mediakonferensie al hul aanwinste aan die media bekend en Ludeke sal dán sy kaarte ten opsigte van sy kaptein wys.
Hy het die kans om, deur Ralepelle aan te wys, vir ’n stukkie geskiedenis te sorg, aangesien dié haker die eerste plaaslike swart speler kan word wat ’n Super Rugbyspan aanvoer.
Dit sal baie daartoe bydra om die Bulls se gewildheid onder swart rugby-ondersteuners te vergroot.
Spies is op sy beurt ’n tweede geslag Bulls-speler en ’n nasionale held. Hy doen graag motiveringspraatjies en daar kan beswaarlik ’n meer geskikte kandidaat wees om die vaandel verder te dra.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24