Cheetahs word nog ’n Blitsbok ryker
2010-08-17 14:16
Bloemfontein - Die Vrystaat se rugbydiepte op vleuel sal in 2011 met die koms van nóg ’n Blitsbok versterk word.
Die Suid-Afrikaanse sewes-rugbyspeler Ryno Benjamin sal volgende jaar vir die Vrystaters uitdraf en reeds in die Super15-reeks vir die Cheetahs beskikbaar wees.
Naka Drotské, Vrystaat-breier, was in die Curriebeker-reeks weens ’n tekort aan vleuels genoodsaak om die senters en Blitsbokke Philip Snyman en JW Jonker op vleuel in te span.
Buiten Benjamin het die Vrystaat ook Snyman en die senter Corné Uys se dienste vir aanstaande jaar verseker.
Benjamin gaan volgens Drotské nie meer sewesrugby speel nie. Dié vleuel het al voorheen vir die Stormers en die Lions in die Super14-reeks uitgedraf en was ook in 2007 deel van die Cheetahs se groep.
“Ryno is ’n goeie speler, het al in die Super14 gespeel en is beslis ’n goeie kopie,” sê Drotské.
Dié aankondiging volg ná die Vrystaters in ’n arbitrasiesaak gehoor het die Blitsbok Lionel Mapoe moet hom hier aanmeld. Hy was in ’n kontrakgeskil tussen die Vrystaat en die Haaie gewikkel.
Ná Danwel Demas se vertrek na Italië en met Mapoe wat nie beskikbaar was nie, was Jongi Nokwe die Vrystaters se enigste ware spoedvraat.
Die Blitsbok MJ Mentz is voor die Curriebeker-reeks aangeskaf, maar hy wag nog op speelkans.
Drotské sê dis verblydend om agterspelers soos Snyman en Uys te behou, aangesien die senter Meyer Bosman hom ná die Curriebeker-reeks by die Haaie aansluit. Albei senters sal tot einde 2011 hier speel.
Hoewel Snyman vanjaar goed as vleuel vertoon, sê Hawies Fourie, agterlyn-afrigter, hy sal hom graag as senter wil inspan.
- Sport24