Cheetahs sal meer sweet in 2012
2012-01-06 10:31
Bloemfontein – Hoewel hulle nog uitspan, sal die Cheetahs reeds aan die einde van die maand voor hul eerste ware toets van 2012 te staan kom.
Dié sentrale streekspan pak op 31 Januarie ’n Lions-rugbyspan met ’n huppel in sy stap en sal vroeg in sy besigste voorseisoen in jare vir Super-rugby op sy stukke moet wees.
Met die Cheetahs se skielike insluiting vandeesweek in die Neo Africa-reeks in Kaapstad, sal hulle boonop nou vier en nie net drie oefenstryde speel nie.
Verder sal Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, se span nie meer in ’n opwarmkragmeting met die Sharks in Durban betrokke wees nie.
Die Cheetahs sou aanvanklik drie oefenstryde, op 28 Januarie teen die Southern Kings in Port Elizabeth, op 3 Februarie teen die Bulls in Polokwane en op 11 Februarie teen die Sharks, speel.
Hulle is vandeesweek ingesluit in die plek van die Sharks, wat hulle aan die Neo Africa-reeks onttrek het.
Dus word kragmetings met die Lions en Stormers op Nuweland ook nou gespeel.
Die Bulls-stryd is na 11 Februarie geskuif, terwyl die Kings s’n voortgaan.
Reeds voor die Cheetahs se deelname aan die reeks in die Moederstad, sou dit hul besigste voorseisoen in ’n lang tyd gewees het.
Drotské het vroeër gesê hy wil graag hê sy span moet beter in 2012 se reeks begin en daarom word meer oefenstryde gespeel.
Die Cheetahs het verlede jaar slegs ’n volwaardige oefenwedstryd teen die Kings en oefensessies teen die Shimlas en Griffons gehad.
Drotské sal met ’n vol program oefenkragmetings vanjaar meer spelers ’n volwaardige kans voor die Super-reeks kan gee.
Die Cheetahs, wat Maandag weer in die Rosestad saamtrek, sal nou minstens vier wedstryde in drie weke speel. Daarvan behoort die Lions vroeg reeds ’n taai toets te wees.
Hoewel dit Super-rugby en ’n streekspan is, sal die Cheetahs teen feitlik dieselfde Leeus-span, wat in 2011 die Curriebeker verower het, speel.
Nie dat die Kings, die Cheetahs se eerste toets, noodwendig kanonvoer gaan wees nie, maar Drotské-hulle het die manne van die Baai in verlede jaar se oefenwedstryd met 45-17 geklop.
Volgens Michael Horak, hoof van rugbysake by die Vrystaatse Rugbyunie, word nog ’n kragmeting op 10 Februarie vir ’n ander Cheetahs-span teen moontlik die Bulle se Vodacombeker-span beplan.
Die Cheetahs se oefenstryde is: 28 Januarie: Southern Kings (Port Elizabeth), 31 Januarie: Lions (Kaapstad), 4 Februarie: Stormers (Kaapstad), 11 Februarie: Bulls (Polokwane).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24