Cheetahs reg vir 85 minute
2011-10-20 08:51
Die Vrystaat-rugbyspan berei hom vandeesweek voor om Saterdag in Durban in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Haaie vir 85 minute alles te gee.
Só sê Michael Horak, die Vrystaat se verdedigingsafrigter, aan die vooraand van sy span se kragmeting op Kingspark.
Volgens Horak het die Cheetahs se onvermoë om 80 minute lank voluit te speel die besoekers duur te staan gekom in 2011.
Hy meen dit is nie aanvaarbaar om teen die einde van wedstryde drieë af te staan nie en glo die Cheetahs het die nodige voorbereiding gedoen om dit te voorkom. Die Cheetahs het dikwels vanjaar in die doodsnikke hul konsentrasie verloor en hul teenstanders toegelaat om hulle van seges te beroof.
Dit het hulle onder meer ’n tuis-halfeindstryd gekos, aangesien hulle nie seges oor die Blou Bulle, die Leeus en Griekwas kon beklink nie.
Die Cheetahs was in al drie daardie kragmetings gemaklik voor, maar het met 22-22 teen die Bulle en met 25-25 teen die Leeus gelykop gespeel.
Teen die Poubloues het hulle met 20-23 vasgeval.
“Ons het hierdie week daarop gehamer dat ons professioneel genoeg moet wees om die teenstanders 85 minute lank te kan uithou. Dit gaan 85 minute se harde werk teen die Haaie verg.
“Dis is volgens die standaarde wat ons aan onsself gestel het nie goed genoeg om weer drie maklike drieë aan die einde toe te laat nie,” sê Horak.
Hoewel dit nie verlede Saterdag, in die tweede kragmeting met Griekwas, soveel saak gemaak het nie, het hulle in die doodsnikke drie drieë teen die Poubloues afgestaan.
Die Cheetahs het nogtans met 49-39 geseëvier.
Die Griekwas-vleuel Dusty Noble het die eerste daarvan in die 75ste minuut gedruk, waarna die skrumskakel, Sarel Pretorius, die laaste drie in die 83ste minuut gedruk het.
Tog het die Cheetahs ’n week tevore teen ’n begeesterde Pumas-span in Witbank gewys hulle kan enduit speel, aangesien hulle eers die wendrie in die 76ste minuut gedruk het om met 29-23 te seëvier.
Horak het dit beklemtoon dat die Vrystaters vanjaar teen die einde van kragmetings te veel gesukkel het.
“Verdediging aan die einde het die Cheetahs in die Super Rugbyreeks duur te staan gekom en in die Curriebeker het dit ons ook in twee of drie wedstryde gepootjie. Nou gaan ons Durban toe en fokus daarop om vir 85 minute lank alles te gee.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24