Cheetahs leer by Amerikaanse ghoeroe
2011-12-09 09:57
Bloemfontein. – Die Cheetahs wil nie voor die Super-reeks soos spiertiere lyk nie, maar eerder beter rugbyatlete wees.
Só verduidelik Niel du Plessis, die Cheetahs se fiksheidsafrigter, die doelwit van die nuwe tegnieke waaraan hy sy spelers blootstel.
Du Plessis en Alfred Rheeder, besturende direkteur van PVM Nutritional Sciences en borg van die Cheetahs, het onlangs by ’n Amerikaansekondisioneringskenner kers opgesteek.
Du Plessis hoop ook dié beginsels sal help om beserings, veral aan sagte weefsel, te verminder.
Du Plessis-hulle het drie weke by Gavin MacMillan van die Sport Science Lab in San Juan Capistrano, Amerika, deurgebring waar hulle gekyk het hoe rugbyspelers meer effektief kan word.
MacMillan is ’n ghoeroe in kondisionering en verskeie Amerikaanse voetbalspelers betaal hom om hulle individueel te laat sweet.
Du Plessis het tydens navorsing op MacMillan afgekom en ruil sedert 2010 idees met hom uit.
Die Cheetahs se fiksheidsafrigter meen gimnasiumwerk help net tot op ’n punt.
“Om meer te benchpress maak jou nie noodwendig beter op die veld nie. Insanity is doing the same things over and over and expecting different results,” sê hy.
Daarom word onder meer die Cheetahs se voet-, balans- en kragwerk aangepas vir beter rugbyresultate.
“Jy kan ’n mooier en sterk atleet maak, maar hy is nie noodwendig meer doeltreffend nie.
“Ons wil nie ouens hê wat op die voorblad van Men’s Health hoort nie. ’n Mooi ou is nie juis ’n goeie atleet nie. Hy is ’n liggaamsbouer.”
Hy gebruik die All Blacks se stutte as voorbeeld – hulle is nie uitermate swaar nie, maar die doeltreffendste skrumwerkers.
“Oor die algemeen word daar gemeen die ou wat die swaarste gewig optel, is die beste atleet, maar dis nie so nie.
“Die beste atleet is eerder die ou wat die ligste gewig die verste kan gooi. Daar is ’n groot verskil.
“Ou wat iets swaar kan optel, kan nie noodwendig iets ver en eksplosief skiet nie.”
Hy meen alles in rugby gebeur eksplosief, dus moet daarvolgens voorberei word.
“Ons het nie gaan kyk wat hulle in die NFL (Amerikaanse voetbal) doen nie. Die belangrikste was om tegnieke en beginsels te leer wat ons in rugby kan toepas.”
En beserings kan só verminder word. “Ons wil ook beserings beter voorkom. In die voorseisoen het ons nog nie sagteweefsel-beserings opgedoen nie.”
“Jy sal steeds beserings hê, maar ons wil die klein beserinkies verhoed. En as ’n ou beseer raak, moet ons hom gouer weer op die veld kry.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24