Cheetahs grom vir Griekwas
2010-07-16 21:02
Anja Carstens
Kaapstad- Die Cheetahs het hul eerste Curriebeker-oorwinning in die sakkie nadat hulle die Griekwas Vrydagaand op Vodacompark in Bloemfontein met 33-26 geklop het.
Die span van die Griekwas was vinnig op die agtervoet nadat hulle hulself onder druk geplaas en die Vrystaters toegelaat het om twee drieë in die eerste helfte te druk.
Op die aanval het die Cheetahs se vaste vyf die bal goed gedra. En op 'n ysige aand in Bloemfontein was dit die Griekwas wat ook die meeste hanteerfoute begaan het.
Die rustydtelling was 14-6 in die guns van die tuisspan.
Die sterk stut van die Cheetahs, Coenie Oosthuizen, het 'n uitstekende wedstryd gehad. Hy is ook as speler van die wedstryd aangewys nadat hy drie drieë in dié kragmeting gedruk het.
Puntemakers:
Vrystaat Cheetahs: Drieë: Robert Ebersohn, Coenie Oosthuizen (3), Jongi Nokwe Doelskoppe: Louis Strydom (4)
Griekwas: Drieë: Bjorn Basson, Sarel Pretorius Doelskoppe: Naas Olivier (2) Strafskoppe: Naas Olivier (2), Riaan Viljoen
Die Cheetahs se volgende wedstryd is teen die Blou Bulle in Pretoria terwyl die Griekwas die Leeus in Kimberley pak.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter
te volg.
- Sport24