Carter, Mealamu terug vir stryd teen Engeland
2012-11-29 17:23
Londen – Die All Black-veterane Dan Carter en Keven Mealamu sal na verwagting terug wees vir die span se wedstryd Saterdag teen Engeland.
Die wêreldkampioene wil hul 2012-seisoen onoorwonne afsluit.
Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, het Carter en Mealamu, sowel as die stut Tony Woodcock in sy beginspan ingesluit. Carter en Mealamu moet nog egter fiksheidstoetse ondergaan.
Hansen het drie veranderings gemaak aan die span wat Wallis verlede naweek 33-10 geklop het, en het die sterkste span aangekondig teen 'n Engelse span wat jeuk vir 'n sege ná hul nederlae teen Australië en Suid-Afrika.
"Ons weet dat die Engelse beter sal wil doen in die laaste wedstryd van die jaar, veral ná hul twee onlangse naelskraapse nederlae. Ons moet in alle fasette voorbereid wees."
Carter, wat hom weens 'n besering aan die toets teen Wallis onttrek het, hervat sy pligte op losskakel, terwyl Aaron Cruden op die plaasvervangerbank sal wees.
Die haker Mealamu vervang Andrew Hore, wat vir vyf wedstryde geskors is nadat hy die Walliese slot Bradley Davies geslaan het. Dane Coles sal op die plaasvervangerbank wees vir ingeval sy kuitbesering weer probleme gee.
Die slot Brodie Retallick is bo Luke Romano gekies vir die sterk Engelse aanslag.
Die span is:
Israel Dagg, Cory Jane, Conrad Smith, Ma'a Nonu, Julian Savea, Dan Carter, Aaron Smith, Kieran Read, Richie McCaw (kaptein), Liam Messam, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Keven Mealamu, Tony Woodcock.
Plaasvervangers: Dane Coles, Wyatt Crockett, Charlie Faumuina, Luke Romano, Victor Vito, Piri Weepu, Aaron Cruden, Ben Smith.
– Volg Nuus24Sport op Twitter
- AFP