Carlos Spencer se speeldae verby
2010-11-25 08:43
Johannesburg - Carlos Spencer se speeldae op die rugbyveld is verby, maar dié oud-All Black gaan volstoom voort met sy taak as die Lions se agterspeler-afrigter.
Die Lions se hoofafrigter, John Mitchell, het bevestig dat sy landgenoot, Spencer, nie meer in 2011 as speler vir die Leeus gaan uitdraf nie.
“Dit is nou ’n nuwe fase van sy lewe en hy fokus nou op sy afrigtingswerk. Maar ek is seker hy sal nog hier en daar in ’n uitnodigingwedstryd speel,” het Mitchell gesê.
Mitchell en Spencer klap sedert verlede week weer die sweep in die Lions-streekspan se voorbereiding vir die 2011-seisoen.
Tog is dit ’n derde Kiwi, die kondisioneringsbreier Wayne Taylor, wat tans die besigste afrigter is, aangesien die fokus nou op fiksheidsoefeninge is.
“Hy (Taylor) fokus nou baie op die individue en watter teikens elke speler moet bereik. Voorheen is daar nie altyd op die regte dinge in die voorseisoen gefokus nie,” het Mitchell gesê.
“Die spelers het nou ook die eerste keer data wat wys waar hulle was, waar hulle is en waar hulle moet wees.”
Tussen die nuwelinge wat in die Lions se oefeninge sweet, is Pat Cilliers (stut), Jacobie Adriaanse (stut) en Michael Bondesio (skrumskakel).
Die flank Michael Rhodes is ook ’n aanwins, maar hy is nog op krukke weens ’n knie-operasie.
Twee ander nuwelinge het tans nog nasionale pligte. Hulle is Bandise Maku (haker, Springbokke) en Lionel Mapoe (vleuel, Blitsbokke).
Die Lions se ander Springbok is die jong losskakel Elton Jantjies, wat tot dusver geen speelkans op die Bokke se Europese toer gekry het nie.
Volgens Mitchell sal die Lions se huidige vergrote oefengroep verklein word vir wanneer die groep ná die feestyd weer op 3 Januarie saamtrek.
“Al ons aanwinste het al aangemeld, maar ons is steeds besig om name by te voeg,” het hy met verwysing na die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) se yslike inkopie-veldtog vir spelers van gehalte gesê.
Die naam van die Springbok-agterspeler Frans Steyn het intussen as nog ’n teiken vir die GLRU-opgeduik, hoewel die GLRU glo byna met elke Suid-Afrikaanse sterspeler in verbinding getree het.
Die GLRU se nuwe sakevennote het onlangs laat blyk dat geen prys hulle sal afskrik om nuwe spelers vir die unie te kontrakteer nie.
Ander name wat al genoem is, is dié van Butch James, Joe van Niekerk en die Wallieser James Hook.
Plaaslik het die Leeus ook voelers uitgesteek na onder andere die Springbokke John Smit, Bismarck du Plessis, Beast Mtawarira, Ryan Kankowski, Andries Bekker en JP Pietersen.
Die GLRU soek egter nie net spelers nie. Die Vrystaatse Vodacombeker- en o.21-afrigter, Pine Pienaar, gaan na verwagting as die Leeus se o.21-afrigter aangestel word.
Hans Coetzee, wat die Leeus verlede jaar in die Curriebeker-reeks afgerig het, is die Rooibontes se nuwe o.19-breier.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24