CJ beskikbaar om VS se skrum te anker
2010-09-07 09:39
Bloemfontein - Die Blou Bulle het dalk weer ná hul Haaie-sege ’n huppel in hul stap, maar die Vrystaat sal self vandeesweek met ’n glimlag vir Saterdag se Curriebeker-kragmeting hier teen die rugbyspan van die Ligbloues slyp.
Die Springbok-stut CJ van der Linde het nog Saterdag op Vodacompark vir sy land in die Drienasies-reeks uitgedraf én sal die Cheetahs se voorspelers meer byt vir hul Bul-aanslag gee.
Van der Linde, wat 65 toetse gespeel het, is een van die nie-gekontrakteerde Bokke wat vrygestel is om in die Curriebeker in te val en sal die Ligbloues aanvat.
Ander seniors soos die Bok-flank Juan Smith sal eers in die uitkloprondes van die reeks vir hul provinsies beskikbaar wees en intussen ’n kondisioneringsprogram met die oog op 2011 se Wêreldbeker-toernooi volg.
Volgens Naka Drotské, Vrystaat-breier, sal Van der Linde teen die Bulle speel en is dit beslis ’n groot hupstoot.
“Dit sal dom wees om nie ’n ou te gebruik nie wat meer as 50 toetse vir Suid-Afrika gespeel het. CJ sal beslis deel van ons 22-tal wees.
“Enige afrigter wat Bokke vir die Curriebeker terugkry, sal in hierdie stadium van die reeks gretig wees om hulle in te span – veral met soveel spanne wat gelyk op die puntelys is,” sê hy.
Hoewel die Vrystaters slegs vir Van der Linde en nie soos ander provinsies ’n rits Bokke terugkry nie, kan sy insluiting ’n invloed op die Bulle-kragmeting hê.
Die 30-jarige vaskopstut het juis Saterdag teen die Wallabies indruk gemaak toe hy ná rustyd as Bok-plaasvervanger op die veld verskyn het.
Drotské meen ook Van der Linde het teen die Aussies goed gespeel.
“Hy is ’n speler van gehalte en ons sal hom gebruik as ons die kans kry.”
Die Bulle sal vir Saterdag se wedstryd deur Bokke soos die haker Chiliboy Ralepelle, slotte Flip van der Merwe en Bakkies Botha en skrumskakel Francois Hougaard versterk word.
Die haker Gary Botha en flank Deon Stegmann het ook van beserings herstel. Lees berig op bl. 14.
Van der Linde se insluiting sal beteken dat Kobus Calldo of WP Nel vir hom in die Cheetahs se 22-tal moet plekmaak.
Calldo het teen die Luiperds vanjaar sy eerste kans in die beginspan gekry en sedertdien teen die Westelike Provinsie en Griekwas die nr. 3-trui gedra. Nel het as plaasvervanger goeie impak gemaak.
Intussen het die stut Coenie Oosthuizen en losskakel Louis Strydom gister se oefening langs die kantlyn dopgehou. Oosthuizen is siek en Strydom herstel nog ná Vrydag se wedstryd. Albei sal vandag weer oefen.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
– Sport24