CJ Stander bevestig Ierse droom
2012-09-20 12:02
Pretoria – Die flank van die Bulle CJ Stander, se skuif na Munster kan die weg baan vir hom om vir Ierland in die volgende Wêreldbeker-toernooi uit te draf, het die keo-webtuiste Donderdag berig.
Stander word as een van die top-losvoorspelers onder Suid-Afrika se jong rugbytalent beskou.
Die 22-jarige was een van sewe jong spelers (die ander sluit in Siya Kolisi, Frans Malherbe, Francois Venter, Arno Botha en Piet van Zyl) wat saam met die Springbokke tydens die Junie-toetsreeks teen Engeland geoefen het.
Hy het die Jong Bokkies by die 2010 Junior Wêreldtoernooi aangevoer en het vir die SA Skolespan uitgedraf.
Stander het egter vroeër die jaar 'n tweejaar-kontrak met Munster onderteken. Die lengte van die kontrak kan hom dalk in 2014 na Suid-Afrika sien terugkeer, maar die losvoorspeler het bevestig dat hy dalk langer in Ierland gaan bly.
"Ek weet ek het baie mense geskok met my besluit om vir Munster te speel, maar ek beskou dit as 'n goeie skuif vir my loopbaan," het Stander aan keo.co.za gesê.
"Ek het gedink ek sou lank vir die Bulle speel, maar ek is nie gelukkig met die speeltyd wat ek daar kry nie. Ek was in die beginspan vir 'n paar wedstryde, maar daar is Springbokke en ander spelers wat tans voor my in die hiërargie is. So ek is nie verseker van 'n plek in die 15-tal nie."
"Ek het my agent hiervan vertel en hy het gesê Munster wil 'n aanbod maak.
"Munster bied hul spelers slegs tweejaar-kontrakte aan. Ek's nie seker wat my finale besluit gaan wees wanneer my kontrak verstryk nie, maar ek stel belang om vir Ierland te speel as die geleentheid hom voordoen."
Stander het egter bygevoeg dat die Springbokke altyd sy eerste keuse sal wees, maar hy dink nie dat hy deel is van Heyneke Meyer se huidige planne nie.
Lees verder.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24