Butch James keer terug na SA
2010-12-23 22:30
Bath - Bath se Suid-Afrikaanse losskakel, Butch James, het aangedui dat hy na sy geboorteland sal terugkeer ná vier seisoene by die Engelse klub.
Volgens 'n berig Donderdag op die BBC se webtuiste, sal die 31-jarige Springbok Bath waarskynlik vroeër verlaat al is daar steeds 12 maande oor op sy kontrak.
"Daar is 'n paar redes hoekom ek Bath verlaat en aanstaande jaar se Wêreldbeker is een van die redes," het James gesê.
"Ek is nie seker hoe lank hierdie bene nog het om te gaan nie. En ek wil ten minste een seisoen in Suid-Afrika speel voor ek uittree," het hy verduidelik.
"Die tyd by Bath was seker die jare wat ek die meeste geniet het om rugby te speel. Ek sal dit mis."
Die losskakel sal na verwagting by die Leeus vir aanstaande jaar se seisoen aansluit.
Gerugte doen ook die ronde dat die Goue Leeus rugbyunie, wat deur die biljoenêr sakeman Robert Gumede finansier word, ook Frans Steyn se dienste bekom het.
Rory Kockott, Bandise Maku, Michael Rhodes, Lionel Mapoe, Michael Bondesio en Pat Cilliers tel onder die nuwe spelers wat hulle by die Leeus in 2011 aansluit.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24