Bulls wil Hougaard meer as skrumskakel inspan
2012-01-11 10:01
Pretoria – Francois Hougaard kan nog steeds by geleentheid op vleuel vir die Bulls-rugbyspan uitdraf, maar dié veelsydige Springbok-agterspeler gaan vanjaar hoofsaaklik op skrumskakel in die Super-reeks oorweeg word.
Só sê die Bulls-breier, Frans Ludeke, wat erken dat Hougaard waarskynlik in óf die nommer nege- óf die nommer 11-trui vir die Bulls én die Springbokke kan uitdraf.
“Hougie wil egter vanjaar sy merk op skrumskakel maak en ons het hom daardie onderneming gegee dat hy genoeg kanse dáár sal kry,” het Ludeke dié netelige kwessie aan Sport24 verduidelik.
Daar is ’n sterk gevoel onder rugbykenners dat Hougaard, een van die min ligpunte tydens die Springbokke se mislukte Wêreldbeker-veldtog in Nieu-Seeland, reeds die einde van verlede seisoen as eerste keuse-linkervleuel moes afsluit.
Peter de Villiers, die Bok-afrigter, het egter volhard deur Hougaard as troefspeler te gebruik en Fourie du Preez op nege en Bryan Habana op 11 te kies.
Dit is in dié stadium nie duidelik waar De Villiers se opvolger vir Hougaard in die nasionale span gaan gebruik nie, maar die speler self wil graag die negetrui dra.
Ludeke wil Hougaard kans gun om sy kleim in die Bulls-trui af te steek, al het hy die luukse van die immergroen Jano Vermaak se dienste ook op skrumskakel.
Dié gewese Lions-speler het reeds diep spore in Super-rugby getrap en homself deur dik en dun bewys.
“Hougie wil graag daar speel, maar hy is ook ’n spanman en besef dat daar tye kan wees waar ons op sy nommer as vleuelkan druk,” het Ludeke gister gesê terwyl die Bulls hul voorseisoense bloedsweetsessies voortgesit het.
“Jano is self ’n skitterende speler – en dan kan ons natuurlik ook nog op Ruan Snyman se knoppie druk.”
Hougaard het slegs in vyf van sy 29 Super-wedstryde op skrumskakel begin, terwyl Vermaak reeds 62 keer dáár uitgedraf het.
Snyman het een Super-wedstryd op die kerfstok.
Ludeke se opsies ten opsigte van Hougaard sal verder beïnvloed word deur die wyse waarop JJ Engelbrecht, wat nog nie op dié vlak gespeel het nie by die Bulls inpas, Akona Ndungane se spelpeil en natuurlik die 2012-temperament van Bjorn Basson.
Sou enige van hulle onderpresteer, kan Ludeke nie veel van ’n keuse hê nie as om Hougaard terug te skuif vleuel toe.
“Ons het ’n paar opsies en dit is ’n goeie ding,” het Ludeke erken.
“Gesonde kompetisie het nog nooit enige speler skade berokken nie.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24