Bulls sê nee vir Liefling
2011-04-18 08:56
Pretoria - ’n Ambisieuse plan om die gewese Bulls- en Blou Bulle-wedstrydwenner Derick Hougaard later vanjaar terug in die Bulkraal te kry, is weens “finansiële verskille” van die baan.
Dié 28-jarige puntemasjien wou na die Bulls terugkeer in ’n poging om die Wêreldbeker-rugbygroep Nieu-Seeland toe te haal en ná gesprekke met sy Engelse klub, Saracens, is voelers na die Bulls uitgesteek.
Na verneem word, het Saracens, in ’n poging om Hougaard by te staan in sy strewe om weer die Bok-span te haal, aangebied om hom aan die Bulls te “leen” sodra die Engelse Premierliga verby is, ’n deel van sy salaris te bly betaal en dan weer sy dienste in die volgende twee Engelse seisoene te benut.
Die idee was dat Hougaard sowat 15 wedstryde per seisoen vir Saracens speel en die res van die tyd vir die Bulls en die Blou Bulle beskikbaar sou wees.
Die sakeman Johann Rupert, wat belange by die Bulls en Saracens het, sou ook ’n bykomende deel van sy kontrak “aanvul” om dit moontlik te maak vir dié Suid-Afrikaanse span om Hougaard te bekostig.
Ondanks al dié pogings is Hougaard glo steeds te duur vir die Bulls en is die planne afgeskiet.
Die Bulls kan glo nie Hougaard in hul begroting inwerk nie, hoewel ses van hul hoogsbetaalde spelers – Victor Matfield, Bakkies Botha, Danie Rossouw, Fourie du Preez, Gary Botha en Gurthrö Steenkamp – op pad oorsee is.
Hougaard is gesog in die Premierliga nadat hy in die 2008-’09-seisoen deel was van die Leicester Tigers-span wat die Premierliga gewen en in die eindstryd om die Heinekenbeker gespeel het.
Hy is daarna Saracens toe waar hy saam met dié klub weer tot in die eindstryd van die Premierliga gevorder het.
Leicester het Saracens in die doodsnikke van daardie wedstryd geklop om sy titel te behou.
Hougaard is tans aan die herstel ná ’n hakskeenbesering wat hy einde verlede jaar opgedoen het en behoort oor sowat twee maande weer terug op die speelveld te wees.
Dié speler het by navraag aan Sport24 gesê hy is bitter teleurgesteld dat dié planne nie gaan uitwerk nie.
“Ek brand steeds om vir die Bokke te speel en is ewig dank verskuldig aan Edward Griffiths (uitvoerende hoof van Saracens) en Johann Rupert wat hul bes gedoen het om my te help om daardie droom te verwesenlik.
“Ek het geglo ek sou regkom by die Bulls en het positiewe geluide van hul kant gehoor, maar dit is nou alles van die baan,” het ’n teleurgestelde Hougaard laat blyk.
Hy word nou deur Bath gejag om in Butch James se plek losskakel te gaan speel. James word oor twee maande ’n Lions-speler.
Intussen wil dit lyk asof Gary Botha, wat volgens Franse bronne vir Toulouse gaan uitdraf, in die Bulls-groep deur Willie Wepener vervang sal word.
Dié haker, wat voorheen met groot sukses vir die Lions Superrugby gespeel het, is tans by die Franse klub Clermont, maar inligting in Sport24 se besit wil dit hê dat hy vir die Bulls gaan uitdraf.
Wepener is ’n vurige speler met baie ervaring en sy koms na Pretoria kan baie vir die Bulls beteken.
- Sport24
- Volg Nuus24Sport op Twitter.