'Bulletjie' swem nou saam Haaie
2010-07-14 15:09
Pretoria - Die Blou Bulle-spandokter van die junior spanne, wat voorheen ook diens gedoen het as die span se gelukbringer Bulletjie, het 'n skuif na die Haaie gemaak.
Ewoudt van der Linde was vir agt jaar deel van die Bulle, eers as die man in die Bulletjie-kostuum, waar sy akrobatiese bewegings hom ‘n gunsteling onder die Loftus-skare gemaak het.
Na hy sy mediese opleiding voltooi het, het hy as dokter by die span aangesluit.
“Vir my is dit ‘n groot geleentheid om by die Haaie in ‘n seniorposisie betrokke te raak. Aan al die Bulle, baie dankie vir die agt jaar wat ek deel kon wees van ‘n wonderlike familie.
Dit was ‘n ongelooflike ervaring waar ek baie lewenslesse geleer het. Ek sal julle almal mis," het Van der Linde in 'n verklaring gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Supersport