Bulle steeds koning op Loftus
2010-10-02 16:59
Anja Carstens
Kaapstad - Dit het die Blou Bulle bloedsweet gekos om hul Curriebeker-derby Saterdag teen die WP op Loftus Versfeld in Pretoria met 36-32 te wen.
Behalwe dat die Bulle meer strafskoppe afgestaan het, was dit 'n
gelykopstryd in die eerste helfte wat besit en gebiedsvoordeel betref.
Teen rustyd was die telling 16-10 in die guns van die Streeptruie nadat die eerste helfte gekenmerk is deur hoë skoppe van albei spanne.
Die Bulle het vir die eerste keer die voortou vroeg in die tweede helfte geneem toe Stefan Watermeyer die Bulle se tweede drie gedruk het. Watermeyer is ook as speler van die wedstryd aangewys.
Gio Aplon se drie in die 70ste minuut het die punteverskil slegs een gemaak, maar die Bulle het uitstekend verdedig om die WP se aanslag te keer.
Puntemakers:
Blou Bulle:
Drieë: Okkie Kruger, Stefan Watermeyer, Zane Kirchner Doelskoppe: Jacques-Louis Potgieter (3) Strafskoppe: Jacques-Louis Potgieter (5) Skepskop: Jaco van der Westhuyzen
Westelike Provinsie:
Drieë: Juan de Jongh, Gio Aplon Doelskoppe: Willem de Waal (1) Strafskoppe: Willem de Waal (5)
Die Bulle se volgende kragmeting is teen die Griekwas in Kimberley terwyl WP die Haaie op Nuweland pak.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.