Bulle verbreek swye oor Meyer
2012-01-25 12:20
Pretoria – Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het Dinsdag in 'n verklaring gesê die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) het aangedui dat hulle Heyneke Meyer die pos as Springbok-afrigter wil aanbied.
Vroeër is berig dat Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux en die vise-president, James Stoffberg, Dinsdagmiddag by Loftus Versfeld opgemerk is en kort daarna het verskeie lede van die Blou Bulle Maatskappy se direksie opgedaag. Almal is toe na een van die raadsale.
Luidens die verklaring het die Blou Bulle benadruk dat Meyer steeds tot 'n kontrak verbind en dat hy reeds as oorhoofse rugbyhoof aangestel is. Meyer het onderneem om die franchise vir die volgende vier jaar te lei.
Verder lui die verklaring dat dit nie in die belang van die Blou Bulle sal wees om Meyer van sy kontrak vry te stel nie. Indien hy egter die Bok-pos aanvaar, sal hy die BBM van sy besluit om afstand te doen van sy verpligtinge by die Bulle in kennis stel.
Die BBM-direksie sê hulle sal baie teleurgesteld wees met só ‘n besluit, maar het steeds vertroue in die span se afrigtingstrukture.
Die aanstelling word Donderdag deur Saru se uitvoerende bestuur bekragtig en Vrydag bekendgemaak.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24