Bulle ook mank na hul WP-wen
2011-09-19 14:09
Pretoria – Slegte nuus vir die Blou Bulle is dat hul vleuel Akona Ndungane die span se volgende twee Curriebeker-kragmetings weens 'n besering sal misloop.
Ndungane het sy ribbes tydens Saterdag se oorwinning oor die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld beseer, het die Blou Bul-rugbyunie Maandag in 'n verklaring gesê.
Die Ligbloues se volgende wedstryd is Saterdag teen die Goue Leeus in Johannesburg en die daaropvolgende naweek speel hulle teen die Pumas in Pretoria.
Ndungane sal na verwagting fiks wees vir aanstaande maand se kragmeting teen die Griekwas in Kimberley. So ook Deon Stegmann (wangbeen) en Jaco Pretorius (lies).
Volgens die spandokter Org Strauss is daar 'n handvol spelers wat las dra van beserings na die naweek se noord-suid-derby.
Dewald Potgieter (enkel), Jano Vermaak (kop), Juandré Kruger (knie), Louis Fouché (lies), Gerrit-Jan van Velze (kneusplekke) en Bjorn Basson (griep), het almal Maandag se oefening misgeloop.
"Maar hulle behoort almal teen Woensdag weer saam te hardloop," het Strauss bygevoeg.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24