Bulle moet oor Morné besluit
2012-10-08 08:32
Kaastad – Die Blou Bulle sal Maandag besluit of hul Springbok-spelers in Saterdag se deurslaggewende Curriebeker-wedstryd teen die Goue Leeus in Johannesburg sal speel.
Die Ligbloues, wat die WP Vrydag met 26-13 op Loftus geklop het, staan steeds 'n kans om die halfeindrondes van die Curriebeker-reeks te haal as hulle die Rooibontes klop.
"Ek sal eerste met Dewald Potgieter (kaptein) gesels en dan met die Springbokke wat teruggekeer het, het die span se afrigter, Pine Pienaar, aan Sport24 gesê.
"Ons sal die beserings in ag neem asook hoeveel speeltyd elke speler gehad het. Kyk byvoorbeeld na Juandré Kruger – hy het vir 'n geruime tyd nie gespeel nie."
Die losvoorspeler Arno Botha, wat verlede week deur die Bokke opgeroep is, en Jacques Potgieter sal volgens Pienaar beslis Saterdag speel.
Daar is ook die groot besluit oor die losskakel Morné Steyn.
Steyn het 'n nagmerrietyd onlangs met die Springbokke beleef en die breier het erken hy is nie seker of die losskakel teruggebring gaan word nie.
"Ek weet nie of Morné tans die begeerte het om te speel nie, maar as hy gretig is en goed wil doen wil ek hom graag in die span hê," het Pienaar gesê.
Afskoptyd Saterdag in Johannesburg is om 19:10.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24